Boomplantdag

Die natuur is nog altyd ná aan my hart. Ek wens ek weet hoekom, maar dis soos die see… Mens kan nie help om te voel dat jou hart ekstra vol is wanneer daar sand tussen jou tone, wind in jou hare en die gesuis van branders in jou ore is nie. Wanneer ek bos en bome en blare en ryk grond ruik, son en skadu op my gesig voel en ‘n briesie oor my vel voel, is ek amper op my gelukkigste. Dus, toe ons amper 5 jaar gelede ‘n trou-venue gesoek het, en hierdie boheem-aardse plek offer ‘n boomplantseremonie as deel van die troupakket, het dit éérs soos die regte plek gevoel.

Soos voorheen genoem, ons vroedvrou is eienaardig. Deel van haar vreemde versoeke was dat ek en Ian moet besluit watse “ritueel” (haar woord, nie myne nie) ons gaan uitvoer na baba se geboorte, om sy geboorte te vier. Sy het ons baie sterk aangeraai om hierdie ritueel minute na die geboorte uit te voer, en haar voorstelle was, onder andere:

  1. Skryf en lees ‘n brief vir baba wat al ons intensies vir hom, en vir ons as ouers, insluit
  2. Bak ‘n koek terwyl ek in vroeë kraam is, en sny en eet hierdie koek ná sy geboorte, as sy eerste verjaardagkoek
  3. Steek spesiale kerse op en sê ‘n gebed op
  4. Indien ons kans sien, is seks ‘n great opsie (blykbaar)

Ons het nie gemaklik gevoel met enige van hierdie idees nie, dit voel net nie opreg nie. Maar om ‘n boom te plant – dit is presies ons ding! Ek gaan toe na ons trouvenue se website, en sien hulle doen steeds dope – en soos met die troue, is ‘n boom ingesluit! Dit is perfek. Maar ek kry hulle nie in die hande voor die geboorte nie…

Baba is 17 Oktober gebore, en na ‘n week of so, begin ek weer die venue kontak om ons Boomplantdag te reël.  12 November laat weet hulle dat hulle die 17 November beskikbaar het – “effense” kort kennisgewing, maar ons besluit dit pas so mooi by sy verjaardag, dat ons dit net móét doen. Beverly, die eienares van die venue is ‘n engel in disguise, en sy beplan die dekor en ‘n middagete vir ons klein seremonie van minder as 15 mense, en wil weet “watter dominee die doop gaan behartig.”

Ek en Ian is nie gelowig nie. Ons het dit vir jare en jare probeer, en het ons redes. Maar beide ons families is óf tradisioneel (Ian s’n), of ekstra gelowig (myne), en hulle het ons reeds voor die geboorte begin treiter oor waar en wanneer ons gaan doop. Ons is al goed geskool in hierdie vrae vermy, en het geen verwagtinge geskep dat dit wel gaan gebeur nie. Noudat baba hier is, gaan die druk net vermeerder. Watse skade sal dit in elk geval doen?

Die “doop” wat ek en Ian in gedagte het, is dat almal wat saak maak (en wil) vir Baba iets sê, of dit nou beloftes, liefde serenades, Bybelverse, liedjies of gedigte is. En dit kan maklik gekombineer word met ‘n eenvoudige “tradisionele” doopseremonie. Beverly reël toe vir ons ‘n dominee, en ons stem ooreen om die seremonie kort en kragtig te hou, en af te sluit met almal wat vir Baba sê wat hulle wil sê. En dan plant ons ‘n boom.

Om al hierdie in minder as ‘n week te beplan met ‘n 3 week-oue baba aan die bors, was nogal ‘n missie! Maar Sondag is alles nietemin in plek.

Vir die eerste keer in die geskiedenis is almal betyds, en ons begin toe sommer 30 minute vroeër as beplan, in dieselfde kerkie waar ons getroud is. Die dominee doen sy ding en seën baba in met olie. Ian se familie is rustig terwyl myne tranig toekyk, stillig dankbaar dat ons tog besluit het om “die regte ding” te doen. En daarna is dit die mense se beurt…

Ian se pa begin – en die trane loop van die eerste sinnetjie af – wat hy twee keer moes oorlees nadat hy effens beheer oor sy emosies gekry het. Die beheer het slegs vir die volgende vier sinne gehou, en teen die laaste paragraaf het almal ewe hard gehuil, en hy moes dit woord vir woord lees, anders kom daar niks uit nie. Dit was die eerste keer ooit wat ek my skoonpa sien huil.

Ian se boetie is verloof aan Lize, en sy het volgende gelees: nie so emosioneel soos my arme skoonpa nie, maar ek dink baba het met sy boude in die botter beland om hulle in sy lewe te hê. Familie, sonder om familie-familie te wees, iemand met ‘n oop kop wat kan luister as sy ouers hom van sy kop af dryf.

My ouers het elk hul eie briefie geskryf, en elkeen was net so vol vreugde-liefde-trane as al die ander. Dis so ‘n ere-plek om die eerste kleinkind in twee families te wees!

Laaste was dit my en Ian se boodskap – Ian moes dit lees want ek huil te veel om ‘n woord uit te kry, maar sy stem het net so lekker gebreek en hy moes ook ‘n traantjie of twee wegpik.

Beverly het baba se boom reg langs ons trouboom reggesit – wat ‘n ongelooflike verassing! Daar waar ons amper vyf jaar gelede liefde aan mekaar beloof het, belowe ons nou liefde aan ons baba. Sy boom gaan groei in die skaduwee en beskerming van ons boom! Almal gooi sand en water in die gat met blinknat oë, en dit voel of almal bewus is van hoe wonderbaar, hoe monumentaal uitsonderlik die oomblik is! Die atmosfeer en emosies maak dit soveel meer spesiaal as wat ek en Ian ooit voor kon hoop… Wat ‘n asemrowende dag!

Ons boodskap aan ons prag-baba:

Baba, vandag is jy 1 maand earth-side. En al die mense vertel ons hoe ‘n baba net ‘n blob is vir die eerste 6 maande. Maar ons kan klaar sien hoe brave en determined jy is, hoe slim en sterk jy is. Ons weet jy is nou te klein om hierdie te verstaan, maar eendag sal jy!

Ons belowe om jou dae te begin en eindig met ‘n reminder oor hoe mal ons oor jou is. Elke aand sal ons vir jou sê dat ons lief is vir jou, en elke oggend sal ons jou wakker maak met ‘n glimlag.

Ons belowe om nie te wys hoe bang ons is wanneer jy nuwe goed probeer nie – al is ons terrified van wat kan gebeur as dit nie uitwerk vir jou nie. Ons belowe om jou te laat kanse waag, om te go vir dit, om jouself te vertrou. Ons belowe om jou te vertrou.

As jy op mess op ‘n klein manier, belowe ons om dit te acknowledge, jou te help en dit dan te laat gaan. En as jy op mess op ‘n groot manier, belowe ons om die weight daarvan te voel en jou te push om dieselfde te doen. Ons belowe om jou toe te laat om die tough foute te maak, om dit te address wanneer ons moet, en nog steeds lief te wees vir jou.

Ons belowe jy sal ‘n helse boek-collection hê, ons sal jou help leer om te lees, en ons sal al ons favorite stories met jou deel – die waar enes en die imagined enes, die enes wat ons gemaak het wie ons is. Ons sal daar wees wanneer jy Harry Potter en Lord of the Rings en die wêreld van Superheroes in comics ontdek. Ons belowe jy sal ‘n lewe vol woorde en boeke en verbeelding en stories hê, en die spasie hê om so creative te wees as wat jy wil wees.

Ons belowe om aktief te wees, om ‘n voorbeeld te wees wat jou sal inspire om ook te beweeg. Ons sal gaan stap en hike en jou leer hoe om ‘n bal te vang en te skop. Ons sal daar wees as jy enigiets wil leer, of dit sokker of dans of yshokkie of swem is, ons belowe om jou te help alles probeer wat jou interesseer, en jou toe te laat om te quit as jy nie meer mal is daaroor nie.

Wanneer jy ‘n bad day het, belowe ons om te luister. Of jou spasie te gee om asem te haal – wat ook al die beste seem at the time. En wanneer jy upset of regtig kwaad raak vir ons, belowe ons ons sal probeer verstaan. Ons sal ons bes probeer om geduldig te wees

Ons belowe om eerlik te wees met jou, al is dit ook hoe moeilik. Maar ons belowe ook om jou te beskerm. As daar iets is wat jy nodig het om te weet, sal ons dit reguit vir jou sê. As jy ons vrae vra, belowe ons om so eerlik te antwoord as wat ons kan.

Ons belowe om te alles te celebrate wat jou anders maak – ons belowe om jou weirdness te embrace.

Op die einde, Baba, belowe ons om jou liefde te wys in al die beste vorms. Ons sal lief bly vir mekaar, en ons familie en vriende. Met woorde en actions, sal ons jou wys wat liefde is. En as ons net een van ons beloftes kan hou, hoop ons dis hierdie een: ons hoop jy voel hierdie liefde, so baie dat dit jou vol maak van binne tot buite, van bo tot onder, tot in jou diepste wortels.

Ons is lief vir jou.

Borsvoed – in die begin

Dié wat nou al ‘n rukkie hier lees, sal weet dat ek lekker grootbek was oor borsvoed:

  • Dis wat Moeder Natuur in gedagte gehad het toe sy nipples vir vroue gegee het – hel alleen weet hoekom mans dieselfde gekry het – okay, wetenskaplik het dit iets te doen met die feit dat alle babas as vroulik begin, nipples ontwikkel, en dán eers word die geslag bepaal en dan sit die seuntjie met die gebakte pere
  • Vroue het vir generasies en generasies hul babas só aan die lewe gehou
  • Moedersmelk het al mense in natuurrampe gered.
  • Babas weet instinktief wat om te doen die oomblik wat hulle gebore word, navorsing wys as baba op die ma se maag neergesit word na geboorte, sal baba sy pad tot by die melk vind, sonder enige hulp of bystand van enigiemand. Ma en baba “weet net”.

Ek het navorsing gedoen, videos gekyk, artikels gelees, stories gelees van ma’s wat suksesvol borsvoed en die horror-stories afgeskryf as tekort aan ondersteuning, education, of wilskrag. Ek het geweet wat moeilik kan wees, wat veronderstel is om maklik te wees, hoe dit moet voel, wanneer seer aanvaarbaar is en wanneer nie, hoe om baba “reg” te latch, die hele shebang!

En toe arriveer Alden, en vir ‘n kamma-groot baba is hy steeds piepklein! En my borste was omtrent so groot soos hy – iets wat nie eers een keer in my navorsing opgekom het nie. Die enigste ding wat ek oor die grootte van die bors versus die grootte van die baba weet, is dat size does not matter! Maar dit doen – soortvan.

Sonder Sharon-die-asemrowende-vroedvrou sou my borsvoed-reis geeindig het nog voor dit kans gehad het om te begin. Baba se bekkie is so klein, en hy is lomp en slaperig na die kraam, en wil niks weet van my ewe-lui boobs nie. Sharon het gelukkig nie tyd vir sulke nonsens nie, en het hom stiptelik op die bors gekry en hy het besef dat sy hom nie gaan uitlos voor hy oorloop nie. Suig het hy gesuig, en genoeg ingekry. Terwyl Sharon hom gelatch het, het sy vir Ian verduidelik wat sy doen, en dit duidelik gemaak dat dit sy werk is om dieselfde te kan doen, totdat ek alleen kan regkom. Sy het Alden hoog opgelig, deur die lug “gevlieg” en afgebring na my bors toe. Daar het sy vir hom ‘n boob-sandwich gemaak en in sy mond gedruk voor hy weet hy het ophou vlieg. Die vlieg en skielike afkom maak hom blykbaar wakker(der) en die herhaalde aksie voor etenstyd, leer hom dat dit nou tyd is om te eet – wat ook kalmerend is as hy reeds kwaad / honger is.

Sharon is toe weg met die streng instruksie dat ons Alden elke uur en ‘n half moet wakker maak om te drink – ten minste in die eerste 48 uur. Dit was ‘n missie! Hy wou net slaap en, om eerlik te wees, ons ook! Ons het die alarm gestel, 20 minute probeer hom lank genoeg wakker te kry om te drink, miserably misluk en die nagsuster aan diens geroep. Hierdie ekspert susters het dan nog so halfuur met Alden gesukkel en hom dan maak verstaan hy gaan ndoodeenvoudig nie verder slaap voor hy gedrink het nie. En toe, op die een of ander manier, oorleef ons die aand en Alden se suikervlak is perfek en hy is perfek en ons is reg om huis toe te gaan!

Om huis toe te gaan was toe ook nie so eenvoudig nie – die pediater moet eers ook seker maak dat Alden die nag oorleef het, daar is nog ‘n pak papierwerk en die kamer bevat steeds die helfte van ons huis en kombuis, in verskillende fases van in- en uitpak. Ons was ewe gefrustreerd en verlig – ons kan nie huis toe gaan nie, maar ten minste kan die vepleegsters on help met hierdie borsvoed-ding.

Ek haat hospitale – en al is Genesis meer soos ‘n hotel as ‘n hospitaal, was ek van plan om by die huis te wees in minder as 24 uur vandag ek ingeboek het. Ons wou ook nie dat die ouers (nou grootouers) al die pad tot by die hospitaal ry nie, ons sou verkies om hulle sommer by die huis te sien. Maar my ma bel my toe die oggend om te hoor hoe dit gaan, en of sy dalk vinnig die baba kan kom groet en sommer help oppak ook. Ons was flou en het die aanbod met ‘n moerse glimlag aanvaar – tot sy sê dat “hulle vier” dan oppad is! Toe kom kuier die hele spul en help sommer oppak ook – gelukkig! Want alles sou nie in ons kar pas nie.

Die pediater was ‘n engel van ‘n vrou, wat uiteindelik by ons uitgekom het en gesê het dat ons maar kan huis toe gaan – en daarna moes ons die suster wys dat ons ‘n karstoel het en dat Alden wel in die stoeltjie pas en dat ons weet hoe om hom in die kar te sit. Dit was (nogsteeds) loadshedding, en die trippie huis toe het vir ewig gevat. My agterstewe en lyf was seer van die kraam, en ek het skeef gesit en seker maak Alden haal al die pad huis toe asem.

Om die huis te sien, ná alles, was nogal ‘n skok. Die bad was nog vol water waar ek laas in kraam was, die oefenbal lê op die bed waar ek laas oor dit gehang het, Ian se vuil klere is oral (doula het gesê hy beter sorg dat hy skoon is en lekker ruik wanneer ons by Genesis arriveer), die skottelgoed staan nog net so. Dis waar dat ek as een vrou daar uit gestap het, en as ‘n hele ander mens terug gekom het. Dit was surrealisties.

Dit het Sharon seker vyf besoeke geneem om Ian behoorlik reg te help met die borsvoed ding – om daai klein bekkie oor my groot boob te kry… Maar uiteindelik het ons dit reggekry. So kreunend en steunend het ek ook Alden oortuig om te drink terwyl ek sit of staan – party dae sommer maklik-maklik, en ander dae het dit langer gevat as wat hy op eindig om te drink.

Wanneer mens borsvoed, is daar ‘n “let-down” – wanneer my lyf agter kom baba soek melk, dan word daar letterlik melk eject. Dis dieselfde refleks wat maak dat party vroue met nat hemde sit… Gedurende die eerste 2 weke was die let-down vir my ongelooflik seer. En vir die volgende 4 weke was ek baie bewus daarvan. Deesdae kan ek dit gelukkig nie eers voel nie.

Danksy Sharon (en nie al my navorsing nie) het ons geweet wanneer Alden ‘n goeie latch het, en wanneer nie. Soms was ons so desperaat dat hy moet drink, dat ons die slegte latch maar net so gelos het – maar ek was rooi en op die punt van stukkend wees na net een slegte latch, wat dan ‘n dag of twee nodig het om weer gesond te word. Ek kan sien hoekom party vroue sukkel met bloeiende borste uit desperaatheid om te borsvoed, en ek wens ek kan elkeen van hulle hande vashou en reghelp. Borsvoed is veronderstel om iets mooi en lekker te wees vir altwee partye, nie iets haatliks seer en traumatiserend nie.

 

IMG-20200119-WA0019

Die Geboortebad

Deel van ons merkwaardige vroedvrou Sharon se “dinge-om-te-doen-voor-die-geboorte”, was om ‘n undress rehearsal te doen. Wat is ‘n undress rehearsal, vra jy? Ons maak asof ons in kraam is en doen álles wat Sharon gesê het ons moet doen asof ons regtig in kraam is.

Nou, Sharon het wéke spandeer in antenatal klasse om ons minder gevorderde mense se verstand te wrap om die konsep van kraam; hoe dit moet wees, hoe dit nie moet wees nie, wanneer ons haar bel en wanneer ons ‘n ambulans moet bel. Daar was ook ‘n klas vir die toekomstige pa’s alleenlik, waar sy al die skrikwekkende dinge met hulle gedeel het, van hoe om die geboortebad skoon te maak en op te slaan en self die baba te vang, tot ‘n live demo van kraam deur die doula, met die volledige byklanke. Ian het grootoog geskok middernag by die huis gekom en rescue-pilletjies vir twee weke nodig gehad.

Deel van hierdie eye-opening klas was die bevel om ‘n undress rehearsal te doen – waarvoor ons natuurlik alles anders ook reg moet hê; tasse moet gepak wees, geboortebad moet gehuur wees, labour-snacks moet gekoop wees en energie-kos moet voorbereid wees. Ian is vas oortuig dat alles, insluitend ek en die bad in sy kar sal pas – ek was minder hoopvol.

Sharon het haar preferred suppliers, van alles, of dit nou ‘n chiropractor, ‘n dokter, toordokter of boekverkoper is, en ons het gevind dis net makliker om met haar mense te werk as om ons eie te vind. Haar geboortebad-verskaffer is ‘n Asiaties tannie 60km van ons af weg, wat die baddens uitverhuur in haar vrye tyd. Dus is dit ‘n missie om haar in die hande te kry gedurende werksure (want sy het ‘n day-job), asook na werksure, want dan ontspan sy soos die res van ons samelewing.

Ietsie het vir my gesê ons moet die bad eerder die Vrydag as die volgende Maandag optel, en ons reël dit so met haar. Woensdag oggend laat weet sy ons dat die “verkeer verskriklik is op Vrydae”, en ons moet die bad daardie oggend kom haal, want sy het dit buite gelos en daar is reën voorspel. Dit gooi natuurlik ál ons planne omver, want ek is 38 weke swanger en kan nie daai groot en swaar ding rondkarwei nie, en Ian het ook ‘n werk om by uit te kom.

Maar soos met alles anders, maak mens ‘n plan, en alhoewel daar nie ‘n druppel reën geval het nie, het ons die bad gekry. Die bad pas nie in die kattebak nie, en vat die hele agtersitplek op, en is vreeslik onaangenaam om in- en uit die kar te haal. Die doula laat weet hy pas ook nie in haar kar nie (anders as oorspronklik ooreengekom) en ons gaan self die bad by die hospitaal moet kry op die Groot Dag. Sy offer om dit vir ons te Uber teen R400 – maar dit sou ons presies dieselfde kos, en ons besluit toe teen dit.

Met die bad veilig in ons garage gebêre, begin ons stadig maar seker opwarm na die idee van die undress rehearsal doen. Voorheen het dit redelik simpel geklink – dis nou nie rocket science om ‘n duisend tasse en ‘n vrou in kraam in ‘n kar te laai nie. Sharon was baie spesifiek oor hoe alles gaan afloop – ek gaan op ‘n papperige oefenbal lê op die agtersitplek, met tasse in die kattebak en lekker rustige musiek wat speel. Waar die bad heen moet verdwyn weet ons nie, maar nou-ja, die kar is groot, Ian sê dit sal pas.

En so sluip twyfel in, en Saterdag oggend probeer ons vinnig alles in die kar prop; dit pas nie. Saterdagmiddag besluit Ian om wel die bad op te slaan, net om seker te maak hy is mooi skoon en dat daar nie gaatjies is nie. En toe besluit hy om hom maar vol te maak ook – ons kan netsowel.

Nou, ons moes spesiaal ‘n nuwe tuinslang koop om die bad meer vol te maak, om seker te maak niks kieme beland in die water wat skadelik vir my of baba kan wees nie. Sharon het gesê die tuinslang sal bo-op ons stortkraan (“or something”) pas… Dit doen nie. So Ian het vir 4-6 ure die 1000 liter bad volgemaak met kokende ketels, emmers vol geiser water, en koue water vanuit die tuin.

Teen sonsak steek hy elke kers in die huis aan, en boelie hy my in die bad in, en ag, wat ‘n ondervinding!! Daar is dik kussings onder die bodem, die bad is ‘n heerlike 30 grade en ‘n meter diep. Vir my groot pens en moeë lyf, was dit hemels! Ian klim ook in, en ons dryf salig rond terwyl Pepper elke nou en dan bekommerd haar neus in die water kom steek.

Na so 15 minute het ek in trane uitgebars. Skielik voel die hele swangerskap-storie baie real, en die baba is oppad en ons is glad nie voorbereid nie, en ek gaan nie die pyn kan hanteer nie en Ian gaan dink ek faal hom en sy baba omdat ek die normale geboorte laat flop het. Ek was oortuig my pelvis gaan te klein wees, baba gaan vassit, of hy gaan nooit eers die moeite doen om te sak nie, of sy koord gaan te styf om sy nek wees, íéts, enigiets, sal verkeerd gaan. Hoeveel makliker sal dit nie net wees as ek myself laat uitsit onder narkose sodat hulle die kind uit my uit kan sny soos soveel ander vroue kies om te doen nie – ek hoef dan net daar te lê en niks baddens op te slaan en vreemde resepte en drankies soos coconut water by die liters te drink nie.

Realiteit het my harder getref daai dag in die bad, as op die Groot Dag met baba in my hande.

Ian was sy gerusstellende self en het my oor en oor vertel hoe sterk en vasberade ek is, hoe as enigiemand dit kan doen, dat dit ek is, my weer en weer vertel hoekom ons dit juis so natuurlik doen, hoekom ons nie ‘n c-section wil hê nie. Sy vertroue in my is al wat my deur die laaste weke en die geboorte gekry het.

Soos gewoonlik was Sharon reg – die undress rehearsal was elke sekond werd. Ek het tot terme met realiteit gekom en nuwe vertroue in Ian se vertroue in my gekry. Ian moes tot terme kom met ‘n baie banger-as-gewoonlik-ek en uiteindelik erken die geboortebad gaan ‘n ander pad tot by die hospitaal moet vind (sy ouers was maar te dankbaar om deel van die proses te wees en dit af te lewer op die Groot Dag), en die tuin was grasgroen nadat dit ‘n duisend liter water ontvang het.

-‘n geboortebad in ‘n sitkamer met Pepper wat toekyk…

IMG_0517

Die Laaste Trimester

Soos wat mens kan aflei van my vorige posts, het ek nie hierdie swangerskap so baie geniet nie. Die “lekker” dinge wat die internet geadverteer het, soos baba die eerste keer voel beweeg en die “ekstra energie” van die tweede trimester, was nie halfpad so duidelik of romanties as wat ek gehoop het nie. Die eerste trimester se magic van die besef dat ek nou ‘n ekstra lewe in my ronddra, was underwhelming en het glad nie soos realiteit gevoel nie. Die tweede trimester, wat volgens almal die beste trimester is, het gesuck! Dis toe wat my klere nie meer lekker pas nie, en pleks van swanger lyk, het ek net vet gelyk (en gevoel.) Terselfdertyd begin al die ongevraagde raad en opinies, insluitend mense wat sê dat ek nie decaf koffie mag drink nie, want daar is trace-hoeveelhede kafeïne in… Ek kan nie tel hoeveel keer ek ‘n emosionele ineenstorting gehad het oor mense se onrealistiese verwagtinge oor my swangerskap nie.

Dus, ná my minder-as-perfekte eerste twee trimesters, was ek versigtig vir die derde trimester. Híérdie een is die ergste by ver, volgens die alwetende “mense” na wie ek te laat ophou luister het. Mens slaap glad nie in die derde trimester nie, jou hande en voete swel tot waatlemoengrote, ek gaan elke 5 minute by ‘n toilet moet uitkom, of die badkamer heeltemal mis en met ‘n nat broek moet rondloop. Die baba gaan my uitmekaar uit skop en ek gaan elke 2de dag hospitaal toe moet jaag vir een of ander valse noodgeval want babas “val mos net uit”. So, wetende dat meeste van hierdie oningeligte, welmenende ouvroustories is, het ek die derde trimester teensinnig versigtig aangedurf.

Dit was ons besigste trimester: ek het yoga-klasse een maal ‘n week, ons het weeklikse antenatal klasse (7pm-10pm!), en die gewone hoeveelheid sosiale verpligtinge. Dis ook tyd vir ‘n maternity fotosessie, baba-tees saam die familie en by die werk, en voorbereiding om klaar te maak by die werk. Ek het halfpad deur trimester nommer drie opgegee om gym toe te gaan, en eerder gefokus op slaap en rus en met Pepper stap. En angstig gewag dat my skoene ophou pas en my trouring my bloedsomloop afsny. Tevergeefs!

Die derde trimester was my gunsteling! Die antenatal klasse, aangebied deur ons ongelooflike vroedvrou, het ons behoorlik voorberei vir alles voor en na die geboorte – van vir Ian wys hoe klink ‘n vrou in kraam en hoe om self die baba te vang as ons te laat by die hospitaal uitkom, tot hoe om borsvoed ‘n goeie begin te gee. Ons kon baba lekker voel beweeg, en kon selfs dat die toekomstige oumas hom voel rond wikkel in my maag. My skoene het tot op die einde gepas, en my ringe, alhoewel stywer, het nie my bloedsomloop ontwrig nie. Miskien is dit dat die baba eers realiteit geword het in die derde trimester? Maar ek het dinge stadiger gevat en elke oomblik probeer embrace.

Nie dat dit maklik was nie – die vroedvrou het ons ‘n behoorlike hoop huiswerk gegee om voor te berei vir baba en die geboorte, en dit was nogal ‘n missie om als in te pas by ons normale leefstyl:

  1. Ian moes my perineum masseer – niks sexy aan hierdie oefening nie, maar nodig om te voorkom dat daar enige skade is wanneer baba sy pad aarde toe vind. Meer inligting hier.
  2. Ian moes leer waar my serviks is, en hom elke dag vir die laaste vier weke vind en kyk hoe dit verander het. Ook niks sexy hier nie!
  3. Die laaste 4 weke moes ek niks behalwe rou groente en vrugte eet nie. Dit verlaag die kanse dat ek bloei tydens geboorte en verminder bloeding ná die geboorte. Ja, dit werk! Ek het seker 80% die dieet gevolg, en het minder as ‘n week lank liggies (pantyliner-liggies) gebloei na die geboorte
  4. Ons moes besluit oor inentings en hoe ons dit gaan hanteer. Dis basies onmoontlik om onbevooroordeelde inligting op die onderwerp te vind, en dit is eintlik steeds ‘n work-in-progress.
  5. Ons moes gaan vir ‘n kursus in homeopatie. Almal weet hoe en wanneer om Panado en Calpol en wie weet wat anders vir babas in te gee, maar niemand oorweeg die effekte daarvan nie. Homeopatie is ‘n veiliger, alternatiewe opsie, maar dis nie asof ons groot geword het daarmee en maklik kan besluit wat om te doen in die geval dat baba ‘n koors of krampe of iets het nie. Die wonderlike ding van homeopatie, volgens my, is dat die “verkeerde” medisyne niks erger maak nie, en dat die regte medisyne binne 15 minute werk. Binne 15 minute kan mens besluit of verdere stappe geneem moet word – iets wat ons baie gemoedsrus gee, aangesien ons nog nie 100% gemaklik is met hierdie alternatiewe vorm van mediese sorg nie!
  6. Ons moes by Genesis Maternity Hospitaal inboek, asook by ‘n backup hopsitaal, ingeval Genesis nie ‘n kamer beskikbaar het nie. Om al die papierwerk reg in te vul is amper ‘n voltydse werk vir twee weke!
  7. Ons moes die geboortebad by die huis kry, toets, en weer by die hospitaal kry op die Groot Dag. Die Geboortebad maak ‘n agtersitplek van ‘n kar vol! Maar om hom te toets was ongelooflik! Meer hieroor later…
  8. Ons moes 3 tasse pak – een vir my, een vir baba, en een met kos. Daar was ‘n hele klomp goed wat ons moes koop en leen en bedel voor… En daarna moet al die tasse, en ek, en die geboortebad in die kar gaan, sodat ons kan sien hoe lank dit neem om te pak, en hoe alles inpas vir die Groot Dag. Vreemde goed wat ons moes in die hande kry vir die tasse, is Liquorice (voorkom konstipasie na geboorte), iets om uit te drink met strooitjies (as mens op jou knieë staan, is ‘n gewone glas nie so gerieflik nie) en swemklere vir Ian (tensy hy in sy geboortepakkie saam met my en baba in die bad wil klim).
  9. Ons moes verskillende tipes squats oefen – posisies wat die beste gaan wees om baba saam met gravitasiekrag aarde toe aan te por
  10. Ek moes kerse, musiek en affirmations bymekaar kry vir die Groot Dag om ‘n tipe altaar te bou wat my aandag (dalk) gaan aftrek van die kontraksies gedurende kraam

En seker nog ‘n 100 ander, klein goedjies.

Vooraf, toe ons na al hierdie dinge kyk, was ons redelik oorweldig. Ons moet dieet, inkopies doen, geestelik voorberei vir ‘n baba, ons verhouding probeer versterk en seker wees ons doen wat ons regtig wil doen, tasse pak en die huis regkry vir hierdie nuwe mens wat ons geen idee het oor wat om te verwag nie.

Maar, toe ons eers by dit uitkom, hou dit ons so besig dat ons skaars tyd het om paniekerig te raak oor die Grootste-Dag-In-Ons-Lewens-Ooit. En toe die Groot Dag aanbreek, kon ons dit doen met ‘n smile!

 

 

Hond vs Baba

Mens hoor gereeld grappies oor ‘n vroutjie wat broeis raak, en dan sê manlief vir haar: “Kom ons kry ‘n hond.” En dan kry hulle ‘n Labrador of ‘n Beagle (of ‘n Jack Russel, in Suid Afrika), en besef die ekstra verantwoordelikheid is eintlik nogal baie werk, en so pause hulle die broeise dame se interne klok vir nog ‘n jaar of twee.

Ian het, volgens my, nodig gehad om die geluk te beleef wat net ‘n hond kan bring, en ons het sewe jaar gelede reeds vir Pepper gekry – een van ons beste en slegste besluite ooit. Ons het nie eers die moontlikheid oorweeg van wat as ons op breek, of wat as ons uit trek en nie dier-vriendelike blyplek kry nie.. En nou is Pepper soveel deel van ons, dat ons altwee tranerig raak wanneer ons dink ons alreeds deur helfte van haar leeftyd is, en dat Pepper tien teen een nie ons kindjie se tiende verjaarsdag gaan sien nie. Om te dink dat ons sjokolade-baster-brakkie alreeds middeljarig is!

My super-alternatiewe vroedvrou (ja, sy is werklik meer alternatief as die gemiddelde vroedvrou – “eksentriek” is eintlik ‘n understatement) gee ons gereeld dinge om te lees, oor te dink, oor te wonder, vrae om myself te vra, en so aan. Een van hierdie huiswerktake, is om ‘n boek te lees: The Mama Bamba Way. Dit vat “alternatief” daardie een stappie te vêr, na my sin. Dit bespreek dinge soos chakras, meditasie, hoe bellydancing gedurende kraam een van die beste moontlike dinge vir ma en baba kan wees, en hoe om ‘n geraas te maak wanneer mens asemhaal.

Ek is ‘n baie, baie gereserveerde introvert. My ma het vir ons ‘n belly-dancing klas gereël vir by kombuistee, en ek en Ian het vir die troue leer dans. Maar ek kan eerlik nie sê dat ek dit verskriklik geniet het nie. En om hard te praat is moeilik genoeg, wat nog te sê van asemhaling klank terwyl ‘n vroedvrou en doula toekyk hoe my ronde, kaal lyf oorbuig van kraampyne! En intussen moet ek fokus dat al my chakras of chi’s (of so iets) oop is en in kontak is met my divine liggaam en Moeder Aarde, terwyl daar fairy dust uit my vagina vloei. Of iets.

Nodeloos om te sê, die boek doen dit nie eintlik vir my nie.

Behalwe dalk vir die vrae wat dit die leser aanraai om haarself te vra, gedurende meditasie. “Meditasie” is relatief – elke taal, kultuur, ouderdom, ensovoorts, het hul eie persepsie van wat dit beteken, maar ek hou van die een waar mens slegs teenwoordig is in die huidige oomblik. En waardeer wat mens in daardie oomblik het. Om moeilike vrae te vra verwyder my uit die huidige oomblik uit, so ek sal dit nie vergelyk met meditasie nie – maar moeilike vrae is goeie goed om die antwoorde van te ken.

Deur van hierdie vrae te antwoord, besef ek een van my swangerskap vrese is: wat van arme Pepper?!

My maag raak nou groot genoeg dat ek al my ouers se kussings en al die ander kussings in die huis in ‘n tipe altaar rondom my en/of die bed pak, en dan stoeigevegte met kussings, Ian en Pepper het voordat ek uiteindelik gemaklik raak vir ‘n halfuur op ‘n slag. Pepper is die minste beïndruk, want sy het altyd in die buig van my maag geslaap, en nou is baba (en twintig kussings) in die pad. Sy slaap maar in die hoekie by my voete, maar elke stoeigeveg ontstel haar, en dan loop sy weg en kom eers terug wanneer ek weer stil lê.

Die laaste paar dae is sy lekker befoeterd, en ek begin dink dis omdat sy alreeds voel dat baba haar vervang! En dis natuurlik die laaste ding wat ons wil hê – baba gaan grootword met haar, en kinderjare hê met ‘n viervoetvriend!

Maar as ek nou reeds vir Pepper afskeep, hoeveel moeiliker gaan dit nie wees wanneer baba eers arriveer nie. Hoe balanseer ek ‘n gelukkige-ma-gelukkige-baba-gelukkige-man-gelukkige-hond leefstyl…?

20190714_164619

-Gelukkig geniet iemand die pregnancy pillow 10 keer meer as ek!

‘n Brief oor Baba

Vandat ek in ‘n ernstige verhouding met Ian is, het ek geweet ek wil kinders hê – verkieslik syne, maar ek sal aanneming oorweeg as dit onmoontlik is weens mediese redes (eintlik, selfs al het ons ons eie!) Toe trou ons, en die prentjie raak al duideliker. Ons soek ten minste drie kinders – een van elk! Net nie nou nie.

Teen die tyd wat ons twee jaar getroud is, het my een helfte van my brein gesê dat die tyd uithardloop – party paartjies vat jare om swanger te raak. En die ander helfte het gesê dat nóú die tyd is om te fokus op my loopbaan, op ons verhouding, op die vakansies wat ons nog op wil gaan. Toe ons derde huweliksherdenking aanbreek, het ons al twee besluit dat die volgende jaar die jaar is wat ons gaan begin probeer. Ek het alles gedoen in voorbereiding wat ek kon, tandarts, navorsing, mediese ondersoeke, nog navorsing, en die prentjie het nóg helderder geword. Dinge soos natuurlike geboorte, lapdoeke, vroedvrou, watergeboorte en borsvoeding het my “must haves” geword. En ek kon uit my nate bars, so opgewonde was ek.

Ek het presies geweet watter tipe swangerskap ek wil hê, watter tipe ma ek daardie eerste twee jaar wil wees, alles. Die swangerskap kon nie gou genoeg kom nie. En toe, probeerslag nommer een, en die baba is so waar as wragtig oppad.

As ‘n tiener was ek doodbang die ouer ek vergeet hoe dit voel om jonk te wees. Ek het my gedagtes, gevoelens en daaglikse gebeure kompulsief neergepen, met die idee dat die Ouer Ek eendag dit kan lees en onthou hoe dit voel. Nee, ek het nog nie ‘n woord daarvan gelees nie (dis eerlik bietjie cringe-worthy), maar die nood om te preserveer wie ek is, en wie ek was, en wie ek word, is steeds redelik sterk. Dis seker een van die hoof redes hoekom ek hier skryf. Saam met die obsessie om die Jonger Ek te preserveer, wou ek ook weet wie my ma was, 30 jaar gelede. Wie was sy toe sy my pa ontmoet, hoe het sy geweet hulle gaan trou, hoe het hulle besluit om kinders te hê? Was dit moeilik om my ma te wees? Was dit moeilik om Vrou en Ma en Inkomstewinner en Dogter en Skoondogter en Huisvrou en Chef en Taxi te wees? Het sy haarself verloor, of haarself gevind? Het sy skoolvriende verloor as gevolg van my? Of het sy my gekry omdat sy hulle ontgroei het?

Dis nou nie die diepste vrae in die wêreld nie, maar ek wou weet wie is hierdie eintlik geheimsinnige wese wat elke aand aandete voorsit. Maar sy kon nie onthou nie, kon my nie antwoord nie, en het nooit iets neergeskryf sodat ek kon insig kry oor waar sy werklik vandaan kom nie. Die vrae het verander gedurende verskillende tye in my lewe – wie was my ma se eerste maatjie op skool, wat het sy gedoen as haar boeties stout was, wat het sy oor vakansies gedoen, hoe het sy klere gekies, wat het hulle op dates gedoen, hoe was haar matriekafskeid, hoe was haar eerste werk?

So, om my kinders se vrae te kan antwoord, het ek dit alles neergeskryf. Met my geluk stel hulle nie eers eendag daarin belang nie, maar dalk doen my kleinkinders. Dalk, oor 50 jaar, wonder een van hulle hoe hulle ouma en oupa ontmoet het. Of wat hulle ouma gedink het toe sy swanger was. Daarvoor het ek gehoop om te minste 10 asemrowende blog posts te hê oor hoe ek elke maand van swanger wees geniet en embrace. Dat elke oomblik magies is, dat ek voel soos ‘n Wonder Woman wat hierdie wonderwerk groei. En, tot my spyt, is hier meer posts wat neig na die negatiewe kant van swangerskap.

Die towerkrag van ‘n gloeiende ma wees, is soort van geruïneer deur my gekreun en steun as ek ‘n sokkie probeer aantrek. Of oor die nuwe vetrolletjie (of ekstra boob?) wat by my sportsbra ontsnap. En steeds, al is dit dinge wat ek sal verkies Baba nie weet oor sy eie wording nie, hier is dit, vir die wêreld om te sien. Miskien voel my dogter eendag dieselfde, en sy is bly sy is nie die enigste een nie? Hopelik leer my seun dat swangerskap nie maanskyn en rose is nie, en pas sy swanger vroutjie ekstra mooi op.

En intussen, gaan ek steeds probeer bewaar wie ek wanneer in my lewe is, wat ek dink en hoe ek voel – dalk maak dit interessante leesstof wanneer ek en Ian op die ouderdom van 80 op die stoep sit en ons lewe agteruit bestudeer.

 

Pregnant Schmegnant

Ek is net-net verby die halfpad punt van ‘n baba inwendig groei, en begin so af en toe soort van voel of ‘n alien onder my vel rond seil, of borrels wat bars hier en daar. Ek verstaan deesdae hoekom niemand vir my kon verduidelik waarvoor om uit te kyk nie – sonder om dit self te voel, is dit so te sê onmoontlik om te beskryf.

Voorheen het ek glad nie swanger gevoel nie – ek was fiks genoeg om skaars iets om die maag te wys, en het niks ooit gevoel nie, en het waarlik ‘n “maklike” swangerskap in vergelyking met baie ander vroue. Realiteit het ingeskop vir ongeveer vier ure na elke sonar, maar dit was dit. Die laaste twee weke het my boep ‘n behoorlike verskyning uit nêrens uit gemaak, asook die rare borrels so af en toe. Vandag met die sonar kon hulle vir my wys waar baba se kop en voete is, so daardeur kon ek vir so rukkie aflei wanneer hy my skop en wanneer hy my slaan. Nou voel ek soos ‘n slagoffer van inwendige domestic violence. Maar net ‘n bietjie, hy is (nog) nie regtig baie sterk nie.

Hoe Ian met my uithou, weet ek wragtig nie. Gisteraand het ek ‘n volkoom onrasionele ineenstorting gehad omdat ek soos ‘n dikgevrete olifantjie voel in my oefen klere. My boobs val bo uit, my pens val onder uit, my oefenbroek se rek rol af as ek hom probeer optrek om die boep toe te maak, en ek kreun en steun soos ‘n basset hound wanneer ek probeer tekkies aantrek.

Ek was veronderstel was om my weeklikse joga aan te durf – moeiliker as wat mens sal verwag van joga, en nog effens moeiliker met ‘n pens (maar hey, watokal die vroedvrou aanbeveel) en toe is dit net te veel om soos ‘n opgestopte seekoei te voel (en lyk). Hoe moet ek nog gaan probeer my tone raak, as my hemp nie eers my heupe raak nie! En my broek gaan maak dat ek almal flash. En my man se hemde is steeds ver te groot en gaan bo-oor my kop val. En dan nog skoene aantrek, net om dit daar weer uit te trek! Dit was baie ugly crying – snot en trane en make-up en effens brutale moord van sommige van skuldige kledingstukke. En Ian wat net glimlag en troos en sê hy verstaan, en dat ek die joga moet los vir die aand.

Ongelukkig het hy saam met die klere bietjie deurgeloop, want hoe durf hy sê ek moet joga net los vir die aand. Ek het minder as 20 weke, 20 joga klasse, oor om kraamvriendelik buigbaar te raak, elke week en elke klas tel! Maar nadat my toppie vlieglesse deur die huis geneem het, gevolg deur sokkies en ‘n skoen, het ek agter gekom dat hy dalk reg is. Vir die instrukteur se onthalwe ook.

Laas naweek wou ek oefenklere gaan soek wat magie-vriendelik is, maar familie en vriende het my afgeraai, want oor ‘n maand gaan ek dalk weer nuwes nodig hê; Ian se hemde is die slimmer plan, en het dit sin gemaak op die tyd. Nou het ek besluit ‘n goedkoop hemp, broek en bra vir joga gaan dalk net hou vir ‘n maand of 2, maar dit gaan vele ander items se lewensduur verleng, en is dus die geld werd. Dis nou as ek iets in die gewone winkels vind, maar ek is effens hoopvol.

Verder het ek gelees dat party vroue se voete ‘n hele nommer grootte vergroot tydens swangerskap. Ek het vier pare skoene , elk meer as ‘n duisend rand werd, wat my dalk nooit weer gaan pas nie! En wat as ek nooit weer in my gunsteling klere pas nie!! Hoekom moet ek alleen die prys vir ‘n baba betaal, wat ons albei gemaak het? En ons soek baie meer as een kind – gaan ek by ‘n skoen nommer 10 trek teen die einde? Hoe maak mens enige permanente klerekas of leefstyl besluite as jy nog kinders wil hê? En hoekom sal jy nog kinders wil maak as die prys vir een ongebore baba reeds so hoog is?

Die silwer randjie – ek is oortuig hierdie gevoelens gaan vergete wees binne ‘n week (dankie, pregnancy brain!), en as nie, dan teen die tyd wat baba in ons arms en harte is…

pregnancy-memes-10-5c07a8578977b__700

Die Kaap van Storms

Vir ons huweliksherdenking, hou ons daarvan om op vakansie te gaan. Nie net ver nie, maar ook sonder al die geroesemoes van Gauteng – ooms en tannies en oumas en vriende en familie en wie weet wie nog wat vuis slaan om ons naweke vol te maak. Ek is baie nader aan my eie familie as wat my man aan syne is, en ons het ons bes probeer om niemand te beledig tydens trouplanne en uit die huis trek en nou met die swangerskap nie. Dit het veroorsaak dat ons konstant na duisende braais, middagetes en ontbyte genooi word – wanneer ook al iemand in die dorp is, sal hulle probeer by ons ‘n draai maak, en ons sal so tegemoetkomend as moontelik wees.

Dus kry ons baie geskenke by kombuistees, en as ons ‘n pap wiel êrens kry, is daar altyd iemand wat uit hul pad sal gaan vir ons. Dis nogal lekker om omring te wees deur mense wat omgee.

‘n Onvoorsiene newe-effek van ‘n goeie verhouding met almal, is dat meeste van hierdie mense afgetree is, en heeltemal kontak verloor met die ritmes van ons werkende individue se daaglikse bestaan. Hulle verstaan nie dat ons nie net ‘n dag se verlof kan neem wanneer hulle lus is om vir ons te kook nie, en dat ons naweke net twee dae lank is, en dat hulle een van amper 10 paartjies is wat ons probeer lok vir die naweek. Ons naweke is gewoonlik twee maande vooruit vol bespreek. Dit kan nogal oorweldigend raak, veral wanneer ons agter kom hulle wil slegs hê ons moet kom kuier omdat hulle kêrel besig is, omdat hulle dogter die kleinkinders nie wil bring nie, of omdat ‘n rekenaar gebreek het en ons moet die ding kom opwek uit die dood. Dan voel ons misbruik, en is sommer glad nie meer lus om so hard te probeer die verhoudinge handhaaf nie.

Met ‘n swanger pens probeer die hele spul nóg harder om ons gereeld te sien, en wanneer hulle ons sien, is hulle heeltyd besig om onnodige, goed-bedoelde raad uit te deel en aan my te vat terwyl Ian in elk geval iets moet regmaak vir hulle. Ons verstaan hulle kinders is te pateties (of dalk net ewe moeg) om hierdie takies vir hulle (oor en oor) te doen, maar ons het tog ook ons eie dinge om te doen.

Wat my smoorkwaad maak in onder 0.5 sekondes, is die feit dat hulle vreeslik manipulerend raak wanneer ons die dag “nee” sê. Dan het hulle ‘n geskenk vir die baba gekoop, en ons moet dit kom optel (in ‘n ander dorp) – toevallig was my ma in die area en ek vra haar toe om dit op te tel, met ‘n baie mooi dankie-boodskap aan die Tannie. My ma is skaars tuis, toe die Tannie bel om te laat weet dat sy vergeet het om iets anders vir my ma te gee, en ons móét dit die naweek optel. Ons het toe al reeds planne gehad om die volgende naweek by hulle te kuier, maar nee, ons móét nou dadelik dit doen. Wanneer ons sê dat ons regtig nie kan nie, sal hulle ons ignoreer, of laat skuldig voel – dinge waarop ek weier om te reageer, maar steeds – die cheek dat 70-jariges sulke nonsens probeer!!

Uit die bloute kontak een Ian se universiteitsvriende hom – hy het 6 maande terug Stellenbosch toe getrek, en die maatskappy kort sagteware developers baie dringend. Hulle sal ons ‘n ekstra groot verhoging gee om Kaapse behuising te kan bekostig, asook betaal vir die trek daarheen. Wat ‘n ongelooflike geleentheid!!

Behalwe ek is 5 maande swanger, het reeds meeste van die mediese uitgawes vir die volgende paar maande hier bo betaal, en ten minste 80% van ons ondersteuningsnetwerk is hier bo. Prakties is dit nie moontlik vir ons om binne die volgende 6 maande Kaap toe te trek nie. Maar die geleentheid laat mens wonder wat mens wel kan doen, wil doen, sal doen…

Ek het familie in die Kaap ook, waar my man niemand het nie. En ons ouers is finansieel in staat om gereeld te kom kuier, en ons by hulle ook. Maar meeste van die irriterende, wel-menende ooms en tannies gaan ons dalk net een keer ‘n jaar nou sien, eerder as een keer ‘n maand. My skoonma gaan nie die baba kan oppas nie, en ons gaan ‘n dagmoeder of iets moet vind. Ons het niemand daar wat ons gaan kan ondersteun met enigiets nie. Dis emosionele en fisiese spanning wat saam met ‘n eerste baba gepaard gaan, saam met die druk van ‘n nuwe begin in ‘n ander provinsie – hoe oorleef mens!

Maar dis ‘n skoon begin – ons kan wegbreek van alles wat voel of dit ons versmoor in Gauteng. Ons wik en weeg gereeld of ons ook soos die hordes ander mense landuit moet vlug. As ‘n miskien-dalk-eendag trek na die moederstad so skrikwekkend is, hoe ondraaglik is ‘n trek na die buiteland dan nie!

2019-Nie-So-Magiese-Mamma

Einde 2018 het ek besluit ek het genoeg gehad van “tradisionele” mediese sorg in hierdie land. Die dokters hier maak geld hoe sieker jy is, in plaas daarvan om jou so vinnig as moontlik so gesond as moontlik te kry, en dit te bereik met die minimum medisyne, of ten minste medisyne met die minimum newe-effekte. Die tendens is om aan te hou dinge voorskryf om simptome in stede van oorsake te behandel, en dan nóg dinge voor te skryf vir die behandeling van die newe-effekte, en so voort. So ek het besluit genoeg is genoeg, dis tyd dat ek na ‘n “funksionele” dokter gaan – iemand wat my sal sê ek moet aan my dieet verander, eerder as om iets vir cholesterol of hoë bloeddruk voor te skryf en my aan te sê om voort te gaan soos altyd. Iemand eerlik.

So ek vind toe die hoogs aanbevole homeopaat in die dorp, kry ‘n afspraak, en is verbaas dat sy my ‘n uur en ‘n half ondervra oor my geskiedenis, besluite, pyne, skete, gevoelens en opinies, en elkeen van my (oordrewe baie) vrae geduldig beantwoord. En my stuur vir ‘n honderd bloedtoetse, wat sy met die volgende afspraak interpreteer, en ‘n paar supplements voorskryf en ‘n paar leefstyl veranderinge voorstel. Hierdie goed laat my onder-aktiewe skildklier probleme toe verdwyn en my aansienlik beter laat voel oor my gesondheid.

Een van my vrae is wanneer ek die voorbehoeding kan los om te probeer swanger raak. Sy sê gemiddeld neem dit omtrent 6 maande om weer normaal te ovuleer ná iemand so lank op voorbehoeding was, en ons kan so lank begin probeer, maar ons moenie hoopvol wees nie, veral as gevolg van my onder-aktiewe skildklier wat vrugbaarheid beïnvloed. En toe raak ons swanger voor ek eers een keer menstrueer nadat ek die Pil gelos het.

Wat ‘n wêreld het toe skielik ‘n realiteit geraak!

Natuurlik het ek vooropgestelde idees en oortuigings, en meeste daarvan is redelik teenstrydig met wat as “gemiddeld” of “normaal” aanvaar word vandag. Ek wil ‘n unmedicated vaginale geboorte hê, ek wil borsvoed, ek wil nie fopspene of weggooi doeke gebruik nie. En ek wou glad nie weet of ons ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie gaan kry nie.

So, nadat ek op die eerste stokkie gepiepie het (meer ingewikkeld as wat die flieks dit laat lyk – dis nie so maklik om vinnig in die winkelsentrum se badkamers die stokkie raak te piepie en die resultaat te kry nie!) en my man gesê het, het ons ‘n volle 12 uur kon uithou voordat ons ons ouers sê. Van daar af het dinge ongelooflik stadig gebeur, maar alles was net so oorweldigend. Ek het ‘n vroedvrou en ‘n doula gekry, ‘n geboortebad gehuur, ‘n back-up ginekoloog gevind, by die dokter uitgekom, en nog ‘n 100 klein administratiewe dinge gedoen. Ek het vir mense gesê ek wil dat almal saam met ons by die baba-tee die baba se geslag uitvind, want ek soek nie ‘n 1000 pienk of blou klerepakkies nie.

Al hierdie dinge het ek met manlief bespreek voordat daar twee strepies op ‘n stokkie was – maar dit het my effens paniekerige swangerskapbrein heeltemal ontglip om weer met hom daaroor te gesels, noudat dit meer as net lugkastele bou is. Amper halfpad deur die swangerskap bars die bom en hy verduidelik vir my hoe belangrik die geslag vir hom is –  hy kan nie die toekoms indink sonder om te weet wat dit is nie. Tannies en ooms en kollegas en oumas en oupas dryf ons ook tot raserny met die vrae oor wanneer ons weet wat dit is, wanneer kan hulle koop en vra simpel vrae oor hoe ons kan beplan sonder om te weet en wat die kamer se tema dan gaan wees, bytjies?

Ek gee toe in – dis ‘n klein prys om te betaal sodat Ian beter kan droom oor die toekoms. Gelukkig het ek vir ‘n papiertjie gevra by die laaste sonar, en ek gee dit toe vir hom, sodat ons kan weet. En toe sê ons ons super ondersteunende ouers en meer inmengerige familie, met die hoop dat hulle van ons rug kan afkom, en ons kan fokus om die “belangriker” gevegte, soos kraam en borsvoeding.

Dis toe dat ons besef ons gaan niemand van ons rug afkry deur in te gee oor enigiets nie. Want die oomblik toe die mense weet wat dit is, begin hulle druk vir name en betekenisse daarvan en kamertemas en “speelgoed vir die bulletjie”! Wat my effens korter-as-gewoonlik humeur goed laat vlam vat het – dit het letterlik niks met hulle te make wat ek in my maag ronddra en wat ons hom gaan noem eendag nie!

Wysneuserige familie op sy gesit, ek het ‘n baie meer magiese swangerskap verwag. Sover ondervind ek die hele affêre as ‘n groot anti-klimaks. Toe ek 7 weke swanger was, het ek doodsiek geword van mangelontsteking en bronchitis en wie weet wat nog – was 3 weke afgeboek om oor dit te probeer kom met die minimum medisyne en geen pynstillers nie. Daarna het ons agter gekom dat niemand ooreenstem met wanneer watter toetse gedoen moet word nie, en ons mis die Down Sindroom ondersoek geheel en al, en eindig op om 2 sonars voor 20 weke te doen – ook iets wat ek tot die heel minimum wil hou. Die een mediese sorg verskaffer sê ten minste 4 liter water, en die ander sê niks meer as 3 liter nie. Die een sê doen die 12 weke sonar, die ander sê wag eerder tot 16 weke. Een sê vermei maag oefeninge soos die pes, en die ander sê maag oefeninge is belangrik.  En so jaag ons ons sterte om te probeer byhou met die tydbom in my maag. Met die laaste sonar sien ons die plasenta sit voor, so ek gaan nie die baba kan voel tot ten minste 24 weke nie. Terwyl my denims te styf begin sit, en ek steeds meer vet as swanger lyk, kan ek nie help om nie regtig swanger te voel nie. Al “bewyse” wat ek het is ‘n dokter, homeopaat, sonograaf, osteopaat en vroedvrou wat nie eers kan saam stem op wat ek moet drink nie, wat nog te sê van die res!​

3d7d51078051decb444bb345049ced38-46pzwm