Borsvoed – in die begin

Dié wat nou al ‘n rukkie hier lees, sal weet dat ek lekker grootbek was oor borsvoed:

  • Dis wat Moeder Natuur in gedagte gehad het toe sy nipples vir vroue gegee het – hel alleen weet hoekom mans dieselfde gekry het – okay, wetenskaplik het dit iets te doen met die feit dat alle babas as vroulik begin, nipples ontwikkel, en dán eers word die geslag bepaal en dan sit die seuntjie met die gebakte pere
  • Vroue het vir generasies en generasies hul babas só aan die lewe gehou
  • Moedersmelk het al mense in natuurrampe gered.
  • Babas weet instinktief wat om te doen die oomblik wat hulle gebore word, navorsing wys as baba op die ma se maag neergesit word na geboorte, sal baba sy pad tot by die melk vind, sonder enige hulp of bystand van enigiemand. Ma en baba “weet net”.

Ek het navorsing gedoen, videos gekyk, artikels gelees, stories gelees van ma’s wat suksesvol borsvoed en die horror-stories afgeskryf as tekort aan ondersteuning, education, of wilskrag. Ek het geweet wat moeilik kan wees, wat veronderstel is om maklik te wees, hoe dit moet voel, wanneer seer aanvaarbaar is en wanneer nie, hoe om baba “reg” te latch, die hele shebang!

En toe arriveer Alden, en vir ‘n kamma-groot baba is hy steeds piepklein! En my borste was omtrent so groot soos hy – iets wat nie eers een keer in my navorsing opgekom het nie. Die enigste ding wat ek oor die grootte van die bors versus die grootte van die baba weet, is dat size does not matter! Maar dit doen – soortvan.

Sonder Sharon-die-asemrowende-vroedvrou sou my borsvoed-reis geeindig het nog voor dit kans gehad het om te begin. Baba se bekkie is so klein, en hy is lomp en slaperig na die kraam, en wil niks weet van my ewe-lui boobs nie. Sharon het gelukkig nie tyd vir sulke nonsens nie, en het hom stiptelik op die bors gekry en hy het besef dat sy hom nie gaan uitlos voor hy oorloop nie. Suig het hy gesuig, en genoeg ingekry. Terwyl Sharon hom gelatch het, het sy vir Ian verduidelik wat sy doen, en dit duidelik gemaak dat dit sy werk is om dieselfde te kan doen, totdat ek alleen kan regkom. Sy het Alden hoog opgelig, deur die lug “gevlieg” en afgebring na my bors toe. Daar het sy vir hom ‘n boob-sandwich gemaak en in sy mond gedruk voor hy weet hy het ophou vlieg. Die vlieg en skielike afkom maak hom blykbaar wakker(der) en die herhaalde aksie voor etenstyd, leer hom dat dit nou tyd is om te eet – wat ook kalmerend is as hy reeds kwaad / honger is.

Sharon is toe weg met die streng instruksie dat ons Alden elke uur en ‘n half moet wakker maak om te drink – ten minste in die eerste 48 uur. Dit was ‘n missie! Hy wou net slaap en, om eerlik te wees, ons ook! Ons het die alarm gestel, 20 minute probeer hom lank genoeg wakker te kry om te drink, miserably misluk en die nagsuster aan diens geroep. Hierdie ekspert susters het dan nog so halfuur met Alden gesukkel en hom dan maak verstaan hy gaan ndoodeenvoudig nie verder slaap voor hy gedrink het nie. En toe, op die een of ander manier, oorleef ons die aand en Alden se suikervlak is perfek en hy is perfek en ons is reg om huis toe te gaan!

Om huis toe te gaan was toe ook nie so eenvoudig nie – die pediater moet eers ook seker maak dat Alden die nag oorleef het, daar is nog ‘n pak papierwerk en die kamer bevat steeds die helfte van ons huis en kombuis, in verskillende fases van in- en uitpak. Ons was ewe gefrustreerd en verlig – ons kan nie huis toe gaan nie, maar ten minste kan die vepleegsters on help met hierdie borsvoed-ding.

Ek haat hospitale – en al is Genesis meer soos ‘n hotel as ‘n hospitaal, was ek van plan om by die huis te wees in minder as 24 uur vandag ek ingeboek het. Ons wou ook nie dat die ouers (nou grootouers) al die pad tot by die hospitaal ry nie, ons sou verkies om hulle sommer by die huis te sien. Maar my ma bel my toe die oggend om te hoor hoe dit gaan, en of sy dalk vinnig die baba kan kom groet en sommer help oppak ook. Ons was flou en het die aanbod met ‘n moerse glimlag aanvaar – tot sy sê dat “hulle vier” dan oppad is! Toe kom kuier die hele spul en help sommer oppak ook – gelukkig! Want alles sou nie in ons kar pas nie.

Die pediater was ‘n engel van ‘n vrou, wat uiteindelik by ons uitgekom het en gesê het dat ons maar kan huis toe gaan – en daarna moes ons die suster wys dat ons ‘n karstoel het en dat Alden wel in die stoeltjie pas en dat ons weet hoe om hom in die kar te sit. Dit was (nogsteeds) loadshedding, en die trippie huis toe het vir ewig gevat. My agterstewe en lyf was seer van die kraam, en ek het skeef gesit en seker maak Alden haal al die pad huis toe asem.

Om die huis te sien, ná alles, was nogal ‘n skok. Die bad was nog vol water waar ek laas in kraam was, die oefenbal lê op die bed waar ek laas oor dit gehang het, Ian se vuil klere is oral (doula het gesê hy beter sorg dat hy skoon is en lekker ruik wanneer ons by Genesis arriveer), die skottelgoed staan nog net so. Dis waar dat ek as een vrou daar uit gestap het, en as ‘n hele ander mens terug gekom het. Dit was surrealisties.

Dit het Sharon seker vyf besoeke geneem om Ian behoorlik reg te help met die borsvoed ding – om daai klein bekkie oor my groot boob te kry… Maar uiteindelik het ons dit reggekry. So kreunend en steunend het ek ook Alden oortuig om te drink terwyl ek sit of staan – party dae sommer maklik-maklik, en ander dae het dit langer gevat as wat hy op eindig om te drink.

Wanneer mens borsvoed, is daar ‘n “let-down” – wanneer my lyf agter kom baba soek melk, dan word daar letterlik melk eject. Dis dieselfde refleks wat maak dat party vroue met nat hemde sit… Gedurende die eerste 2 weke was die let-down vir my ongelooflik seer. En vir die volgende 4 weke was ek baie bewus daarvan. Deesdae kan ek dit gelukkig nie eers voel nie.

Danksy Sharon (en nie al my navorsing nie) het ons geweet wanneer Alden ‘n goeie latch het, en wanneer nie. Soms was ons so desperaat dat hy moet drink, dat ons die slegte latch maar net so gelos het – maar ek was rooi en op die punt van stukkend wees na net een slegte latch, wat dan ‘n dag of twee nodig het om weer gesond te word. Ek kan sien hoekom party vroue sukkel met bloeiende borste uit desperaatheid om te borsvoed, en ek wens ek kan elkeen van hulle hande vashou en reghelp. Borsvoed is veronderstel om iets mooi en lekker te wees vir altwee partye, nie iets haatliks seer en traumatiserend nie.

 

IMG-20200119-WA0019

5 thoughts on “Borsvoed – in die begin

  1. Ek is so bly jy het aanhou probeer. Ek het vier kinders gehad en net die laaste een geborsvoed. Dit was ook ‘n gesukkel, veral met drie ander kinders wat my aandag geverg het. Ek het net besluit ek gáán dit regkry. Sonder enige hulp, was dit uiteindelik ‘n baie vervullende ervaring! Byt vas!!

    Liked by 1 person

    1. Dis amazing dat jy ná 3 kinders weer probeer het, veral alleen, en met nog 3 kinders wat aandag soek! Dis wragtig nie maklik nie, ma en baba moet uitfigure hoe dit werk, en mens het tud, geduld en ondersteuning nodig daarvoor!

      Liked by 1 person

      1. Ek was so vasberade, dat ek net aangehou het tot ek dit reggekry het.Dit was moeilik hoor, maar dit wys as mens aanhou, kan dit werk. Probeer om jou kleinding so lank as moontlik te voed.

        Like

Leave a comment