Takt

Toe ek jonger was, het ek gedink ‘n vriend is lojaal, bo en behalwe alles anders, en tweedens, is ‘n vriend iemand by wie jy “jouself” kan wees. En “jouself” was nie altyd ‘n baie gawe persoon nie – maar ware vriende het nie omgegee nie, en het geweet wat jy bedoel, al het jy dit ook hóé kras gesê. Oor tyd het ek soms meer en minder saamgestem met die bogenoemde, maar ál minder gedurende die laaste paar jaar.

Ek het LEMON Leadership sessies vir twee jaar gedoen, asook ander leierskap kursusse deur my werk. Die fokus van elke behoorlike leierskapkursus is óf Emosionele Intelligensie, óf Empatie – wat so te sê dieselfde ding is. Hoe om behoorlik te kommunikeer (luister net! …en vra vrae tot jy werklik verstaan) is fundumenteel aan ‘n leier wees, en empatie is al hoe dit moontlik is. My en Ian se verhouding is ‘n duisend maal beter as gevolg van die kommunikasie en empatie tegnieke wat ons geleer het in LEMON Leadership – die hoeveelheid lelike argumente wat ons reeds kon verhoed met mekaar en met ander, is ontelbaar. Dit beteken nie dat argumente nutteloos is of nooit gebeur nie – dis net ‘n meer beskaafde gesprek as ‘n geveg.

Onlangs het ek en Ian ‘n meningsverskil gehad oor dinge in die huis doen – Ian help met alles wat van die gemiddelde vrou (en/of ma) alleen verwag word, maar hy doen dit soms oorhaastig en maak werk vir my. Nie meer werk as wat dit sou wees as ek dit myself moes doen nie, maar steeds werk. In my haas om alles gedoen te kry vir die volgende dag, sal ek ewe vinnig vir hom sê presies hoe verkeerd hy dit gedoen het, en met ‘n houding dit rég doen. Dit maak natuurlik seer – vir my, want “hy kan nie die moeite doen om die droë skottelgoed te bêre voordat hy die nat enes uitpak nie”, en vir hom, want “ek is ondankbaar as hy sy bes doen om uit te help”.

In minder as 20 minute kon ons van die woede-gevoelens van “Ian doen niks ordentlik nie” en “niks is ooit goed genoeg vir vroutjie nie” gaan na seer “Ian doen nie moeite nie” en “vroutjie kritiseer my beste” tot op ‘n punt waar ons verstaan waar mekaar se gevoelens vandaan kom, en ‘n oplossing vind. Ek gaan probeer minder bossy kritiek gee en meer teer voorstelle maak, en hy gaan onthou dat dubbel die hoeveelheid nat skottelgoed meer werk is.

Na die gesprek dink ek aan alles wat ek kón sê – 10 jaar terug seker sou sê ook – maar besluit het om nie te sê nie. Wrede goed. Dalk waar? Maar om te sê iemand lyk vet in ‘n rok, of om te sê dat ‘n ander rok beter gaan pas is ewe waar; mens hoef nie wreed te wees om eerlik te wees nie. Mense hoor in elk geval beter as hulle nie beledig of aangeval voel nie.

Dis toe dat ek terug dink aan skooldae, toe ek geglo het dat om aanvaar, tot waardeer te word, vir hartelose eerlikheid gelyk is aan vriendskap, en watter pot selfdienende nonsens dit is wat ek vir myself vertel het. Sonder takt was ek maar net ‘n kind, onvolwasse en eintlik ongeskik. Daar is nog báie spasie om te groei, maar ten minste is ek nie meer helemal taktloos nie.

Borsvoed – in die begin

Dié wat nou al ‘n rukkie hier lees, sal weet dat ek lekker grootbek was oor borsvoed:

  • Dis wat Moeder Natuur in gedagte gehad het toe sy nipples vir vroue gegee het – hel alleen weet hoekom mans dieselfde gekry het – okay, wetenskaplik het dit iets te doen met die feit dat alle babas as vroulik begin, nipples ontwikkel, en dán eers word die geslag bepaal en dan sit die seuntjie met die gebakte pere
  • Vroue het vir generasies en generasies hul babas só aan die lewe gehou
  • Moedersmelk het al mense in natuurrampe gered.
  • Babas weet instinktief wat om te doen die oomblik wat hulle gebore word, navorsing wys as baba op die ma se maag neergesit word na geboorte, sal baba sy pad tot by die melk vind, sonder enige hulp of bystand van enigiemand. Ma en baba “weet net”.

Ek het navorsing gedoen, videos gekyk, artikels gelees, stories gelees van ma’s wat suksesvol borsvoed en die horror-stories afgeskryf as tekort aan ondersteuning, education, of wilskrag. Ek het geweet wat moeilik kan wees, wat veronderstel is om maklik te wees, hoe dit moet voel, wanneer seer aanvaarbaar is en wanneer nie, hoe om baba “reg” te latch, die hele shebang!

En toe arriveer Alden, en vir ‘n kamma-groot baba is hy steeds piepklein! En my borste was omtrent so groot soos hy – iets wat nie eers een keer in my navorsing opgekom het nie. Die enigste ding wat ek oor die grootte van die bors versus die grootte van die baba weet, is dat size does not matter! Maar dit doen – soortvan.

Sonder Sharon-die-asemrowende-vroedvrou sou my borsvoed-reis geeindig het nog voor dit kans gehad het om te begin. Baba se bekkie is so klein, en hy is lomp en slaperig na die kraam, en wil niks weet van my ewe-lui boobs nie. Sharon het gelukkig nie tyd vir sulke nonsens nie, en het hom stiptelik op die bors gekry en hy het besef dat sy hom nie gaan uitlos voor hy oorloop nie. Suig het hy gesuig, en genoeg ingekry. Terwyl Sharon hom gelatch het, het sy vir Ian verduidelik wat sy doen, en dit duidelik gemaak dat dit sy werk is om dieselfde te kan doen, totdat ek alleen kan regkom. Sy het Alden hoog opgelig, deur die lug “gevlieg” en afgebring na my bors toe. Daar het sy vir hom ‘n boob-sandwich gemaak en in sy mond gedruk voor hy weet hy het ophou vlieg. Die vlieg en skielike afkom maak hom blykbaar wakker(der) en die herhaalde aksie voor etenstyd, leer hom dat dit nou tyd is om te eet – wat ook kalmerend is as hy reeds kwaad / honger is.

Sharon is toe weg met die streng instruksie dat ons Alden elke uur en ‘n half moet wakker maak om te drink – ten minste in die eerste 48 uur. Dit was ‘n missie! Hy wou net slaap en, om eerlik te wees, ons ook! Ons het die alarm gestel, 20 minute probeer hom lank genoeg wakker te kry om te drink, miserably misluk en die nagsuster aan diens geroep. Hierdie ekspert susters het dan nog so halfuur met Alden gesukkel en hom dan maak verstaan hy gaan ndoodeenvoudig nie verder slaap voor hy gedrink het nie. En toe, op die een of ander manier, oorleef ons die aand en Alden se suikervlak is perfek en hy is perfek en ons is reg om huis toe te gaan!

Om huis toe te gaan was toe ook nie so eenvoudig nie – die pediater moet eers ook seker maak dat Alden die nag oorleef het, daar is nog ‘n pak papierwerk en die kamer bevat steeds die helfte van ons huis en kombuis, in verskillende fases van in- en uitpak. Ons was ewe gefrustreerd en verlig – ons kan nie huis toe gaan nie, maar ten minste kan die vepleegsters on help met hierdie borsvoed-ding.

Ek haat hospitale – en al is Genesis meer soos ‘n hotel as ‘n hospitaal, was ek van plan om by die huis te wees in minder as 24 uur vandag ek ingeboek het. Ons wou ook nie dat die ouers (nou grootouers) al die pad tot by die hospitaal ry nie, ons sou verkies om hulle sommer by die huis te sien. Maar my ma bel my toe die oggend om te hoor hoe dit gaan, en of sy dalk vinnig die baba kan kom groet en sommer help oppak ook. Ons was flou en het die aanbod met ‘n moerse glimlag aanvaar – tot sy sê dat “hulle vier” dan oppad is! Toe kom kuier die hele spul en help sommer oppak ook – gelukkig! Want alles sou nie in ons kar pas nie.

Die pediater was ‘n engel van ‘n vrou, wat uiteindelik by ons uitgekom het en gesê het dat ons maar kan huis toe gaan – en daarna moes ons die suster wys dat ons ‘n karstoel het en dat Alden wel in die stoeltjie pas en dat ons weet hoe om hom in die kar te sit. Dit was (nogsteeds) loadshedding, en die trippie huis toe het vir ewig gevat. My agterstewe en lyf was seer van die kraam, en ek het skeef gesit en seker maak Alden haal al die pad huis toe asem.

Om die huis te sien, ná alles, was nogal ‘n skok. Die bad was nog vol water waar ek laas in kraam was, die oefenbal lê op die bed waar ek laas oor dit gehang het, Ian se vuil klere is oral (doula het gesê hy beter sorg dat hy skoon is en lekker ruik wanneer ons by Genesis arriveer), die skottelgoed staan nog net so. Dis waar dat ek as een vrou daar uit gestap het, en as ‘n hele ander mens terug gekom het. Dit was surrealisties.

Dit het Sharon seker vyf besoeke geneem om Ian behoorlik reg te help met die borsvoed ding – om daai klein bekkie oor my groot boob te kry… Maar uiteindelik het ons dit reggekry. So kreunend en steunend het ek ook Alden oortuig om te drink terwyl ek sit of staan – party dae sommer maklik-maklik, en ander dae het dit langer gevat as wat hy op eindig om te drink.

Wanneer mens borsvoed, is daar ‘n “let-down” – wanneer my lyf agter kom baba soek melk, dan word daar letterlik melk eject. Dis dieselfde refleks wat maak dat party vroue met nat hemde sit… Gedurende die eerste 2 weke was die let-down vir my ongelooflik seer. En vir die volgende 4 weke was ek baie bewus daarvan. Deesdae kan ek dit gelukkig nie eers voel nie.

Danksy Sharon (en nie al my navorsing nie) het ons geweet wanneer Alden ‘n goeie latch het, en wanneer nie. Soms was ons so desperaat dat hy moet drink, dat ons die slegte latch maar net so gelos het – maar ek was rooi en op die punt van stukkend wees na net een slegte latch, wat dan ‘n dag of twee nodig het om weer gesond te word. Ek kan sien hoekom party vroue sukkel met bloeiende borste uit desperaatheid om te borsvoed, en ek wens ek kan elkeen van hulle hande vashou en reghelp. Borsvoed is veronderstel om iets mooi en lekker te wees vir altwee partye, nie iets haatliks seer en traumatiserend nie.

 

IMG-20200119-WA0019

Geboorte

By die hospitaal gekom, was Sharon & die doula, Tracy reeds reg vir my – amper! Tracy was besig om die geboortebad op te slaan, en Sharon het my op ‘n oefenbal laat sit sodat sy my & baba se hartklop tussendeur sowel as gedurende kontraksies kan meet. Met al die antenatal klasse, het Sharon verskriklik beklemtoon hoe belangrik dit is om reg asem te haal tydens kontraksies, hoe om te ontspan en jou lyf toe te laat om die werk te doen. Maar, toe die regte kontraksies begin, het ek net dalk die helfte reg gekry van wat sy in ons in gedrill het! Sy het met my eerste kontraksie by die hospitaal al gehelp om my asemhaling en postuur te verbeter. Ek het nie my skouers laat ontspan nie, nie diep of stadig genoeg asem gehaal nie, ek het my gesig op gescrunch, my oë toegeknyp en allerhande stywe dinge soos dit. Haar kritiek het my iets gegee om op te fokus tydens kontraksies, maar ek dink nie ek het té veel ontspan nie!

Sharon was tevrede met my en baba se hartklop en sy kyk toe hoe ver my serviks is – 8cm dilated!!! Wat ‘n shocker!!! Ian was steeds besig om ons bagasie in te dra (ons het ten minste nog 12 ure se kraam in gedagte gehad) en Tracy het verder met die bad gestoei. Tracy was ‘n ongelooflik rustige teenwoordigheid in die kamer en dit was nogal aansteeklik. Ian het nogal rondgehol om alles in te dra en uit te pak en op te stel en vir my aan te gee en uit te wys, maar sy woeligheid het my uitgestres! Sy senuweeagtige opgewondenheid het my net senuweeagtig gemaak…

Meestal het ek gefokus op Sharon se no-nonsense, aard-van-die-saak houding, maar ek sou nie moed gehad het vir enigiets sonder Ian nie. Hoe daar van vroue verwag word om te kraam sonder die liefdevolle teenwoordigheid van hul (hopenlik) ondersteunende mans, weet ek wragtig nie.

Sharon het my vinnig op die toilet laat sit (eerste keer wat ek my besigheid voor Ian moes doen) want ‘n leë blaas maak blykbaar meer plek vir die baba om sy pad Aarde toe te vind. Ek wou nie van die troon af klim nie, kom wat wil! Op week 36 was ek Strep B positief getoets. Daar is iets soos ‘n 2% kans dat dit longontsteking vir die baba kan veroorsaak, en ek sou tydens kraam ‘n antibiotikum drup moes kry. Behalwe vir al die obvious newe-effekte daarvan, wou ek nie dat my baba se eerste interaksie met Aarde antibiotika is nie, maar ons kon dit nie betyds dit met my ginekoloog bespreek nie. So die gawe verpleegster het toe in die badkamer opgedaag met haar drup. My kontraksies was behoorlik op mekaar, en sy het werklik haar bes gedoen om die drup in my arm te kry. Dit was mis. En weer mis. En toe was dit (gelukkig) te laat om eers verder te probeer. Ian en Sharon moes my omtrent van die toilet af sleep – Sharon het nodig om hartkloppe te monitor en niemand wil regtig ons baba in die toilet hê nie.

Dit het gevoel of die kontraksies baie vinnig baie ernstig geraak het, en ek het die “pressure in the bum” begin voel (wat Sharon tydens elke klas genoem het.) Voorheen was ek doodbang dat iets meer as die baba uitkom wanneer ek begin druk, maar die kontraksies was te seer om om te gee oor sulke modesties – ek was so te sê 10cm dilated after all!

IMG_20191017_184146

Sharon het my in baie verskillende birthing positions laat kraam, en ek het niks daarvan geniet nie. Ek wou bly net waar ek was, ongeag van waar dit is. Dit het dalk meer te doen gehad met die pyn as die posisie, maar na ‘n tydjie was ALLES seer: my rug, nek, skouers, bene, knieë, heupe – alles! Een van die posisies het ek bo-op Ian se skoot gesit: boude hang af tussen sy bene en my arms om sy lyf. Daar het ek elkeen van sy love-handle báie styf vasgehou, en die arme man potblou gebyt. Later was ek hande-viervoet op die grond, en Ian het my kop vir my bo gehou. Ek het geweet hy is doodmoeg en sy lyf moes ook al lekker seer wees, maar ek kon hom net nie toelaat om te stop nie.

Tussendeur kontraksies was ‘n ongelooflike gevoel, dit was verby wonderlik. Dit voel soos daai oomblik wat jy plat op jou rug val nadat jy ‘n 200 meter sprint gedoen het! Al die spiere ontspan, en jy kry jou asem terug, en jy is té besig om beter te voel as om te konsentreer op die pyn wat jy pas ervaar het.

Die simpel bad was steeds nie vol nie!! Ek wou in hom klim en sit en swaai soos al die ander tannies in watergeboorte videos, want om te beweeg, was seer! En ek het geweet wat kom is erger, en dit raak al hoe nader; Sharon het begin om hitte en spesiale labour-oil op my agterstewe te sit, en die einde is in sig.

Dis nie dat ek juis báng was vir wat kom nie, maar ek was nie presies seker dat ek dit regtig sal kan doen nie – alles was so seer! En toe confuse Sharon my met asemhaling-tegnieke! Sy wil hê ek moet in-asem en dan my asem inhou terwyl ek druk – en dis presies die teenoorgestelde wat ek in enige oefenklas al ooit geleer het. Dit het nogal ‘n rukkie geneem om my kop om die konsep gedraai te kry, en Ian het later begin asem-inhou-druk-en-blaas-uit saam my doen. Ek kan nie beskryf hoe baie dit gehelp het nie!

Uiteindelik breek my water, en dit is ligbruin en dowwerig, in stede van helder en strooikleurig. Baba se maag het 3 of meer dae terug gewerk, en dit beteken dat, al sou die bad reg wees, dit veiliger is vir hom om nie in die water gebore te word nie. Dis flippen baie water wat uitkom, en meer as net ‘n bietjie gross – mens hoor dit, en voel dit, en sien dit, en ek het my gat af geskrik! Ek het gesukkel om die “regte” plek te vind om te druk en die pyn was werklik asemrowend. Dis soos om skielik ‘n nuwe spier te hê en dan moet uitwerk hoe om dit te flex, want jy het nooit eers geweet jy het so een nie.

Tydens die antenatal klasse het Sharon dit duidelik gemaak dat ons net moet druk tot die “ring of fire” oomblik, en dan gaan sy ons aansê om vir ‘n paar minute glad nie te druk nie. Dit help sodat die perineum kan rek en strek vir baba eerder as om te skeur. So toe ek die baba voel afkom, weet ek dat die ergste net minute weg is.

Ek sweer ek het die ring of fire soos vyf keer gevoel, maar Sharon het nooit gesê ek kan maar ophou druk nie. Partykeer het ek sommer gedruk sonder kontraksies – ek kon dit net nie keer nie, en dan byt Sharon my kop af want ek moet my energie spaar. Maar ek het geen beheer gehad daaroor nie. Tussendeur het sy dikwels die baba se hartklop geneem, en elke keer vir my gesê hoe goed hy doen en hoe sterk hy is. Dit was lekker gewees om te hoor, maar omdat sy dit so gereeld gedoen het, het dit my laat voel asof dit enige oomblik kan verander.

Ian het dwarsdeur alles aanhou aan my vat, met my praat en coconut water met heuning gevoer (daar was ‘n skreeusnaakse tien minute vroeër waar niemand die heuning bottel oop kon maak nie!)

dav
Ian los my nie vir ‘n oomblik alleen nie

Teen skemer kon ek nie meer die verskil voel tussen wanneer ek ‘n kontraksie het en wanneer nie, en het maar net gedruk wanneer Sharon gesê het ek moet (en skelm tussen deur!) Soms kon ek baba voel skuif, en soms glad nie. En toe sê sy ek moet ophou druk!!! Net vir ‘n paar sekondes…

Tyd het vinnig betekenis verloor. Tuis, toe ek nog vir Ian gewag het, het ek gedink daar is geen manier wat ek nog ‘n kontraksie gaan oorleef nie. En as ek weer na die horlosie kyk, is ek verbaas hoeveel ure reeds verby is. By die hospitaal het ek voor die privaat tuin gekraam, en elke dan en wan verbysterend opgeloer en gesien hoeveel laer die son sit, terselfdertyd geskok oor hoe lig dit is en oor hoe naby dit aan aand is.

Toe vinnig druk-en-stop-druk-en-stop – ek weet nou nog nie hoekom nie, ek het net gemaak soos sy sê. En daar voel ek hoe sy kop uitkom, en sy skouers en maag en bene, en ek het terug gedraai sodat ek kon sien of hy uit is! Net om te besef dat dit die werklike ring of fire is, en net die bokant van sy kop is sigbaar. Dit was baie motiverend, en net ‘n paar vinnige drukke was nodig voor ek hom regtig kon voel uitkom. Dit was ‘n ongelooflike ervaring.

Ek was die hele tyd bang gewees vir ‘n c-seksie en, terwyl ek na ons kindjie kyk, kon ek steeds nie glo ek het hierdie moerse operasie vermy nie. Ons familie en vriende was ondersteunend genoeg vir die natuurlike geboorte, maar in dieselfde manier wat mens ‘n drie-jarige ondersteun: “Natuurlik gaan jy Superman wees wanneer jy groot is!” Dit het gevoel of almal wag dat my “perfekte geboorte” gaan flop sodat hulle selfvoldaan “I told you so!” kan sê. Ek was bang vir enige ander potensiale failures ook, soos ‘n episiotomie, vir dieselfde rede. Om te kan sê “ek het dit gedoen”, en by te dink “presies soos wat ek wou”, ten spyte van almal anders se idees en vrese, was intens en empowering.

Sharon het hom vir my gegee, en ek kon fisies voel hoe die koord aan my binneste trek – hy het ‘n effense kort koord gehad – en dit was die vreemdste seer ooit! Sy het so “sexy” stoeltjie met ‘n gat in, wat bo-oor ‘n emmer staan, waar-in die plasenta gebore moet word. Ek het op die troontjie geklim en ons baba vasgehou – ons baie baie mooi baba seuntjie!

dav

Sy koord het vir amper 30 minute aanhou pols en ek kon nie eers myself indink hoe dit sou voel om nog ‘n kontraksie te hê om die plasenta uit te kry nie. Maar soos alles anders gebeur dit in elk geval, en toe val dit die emmer mis, PLONKS in Sharon wagtende hande. ‘n Plasenta is GROOT, en lelik, en lieflik en ryk en donker en sag. Dis disgusting, maar in ‘n rerige great manier! Ian het die koord geknip en gebind, en toe klim ons al drie in die geboortebad in. Kyk, uit daai bad wou ek nóóít klim nie!

IMG_20191017_203140

Soos tydens ons rehearsal, het ek gedink ek gaan elke aspek van die bad geniet, van die water tot die kussing onder my knieë en onder my kop, die temperatuur, alles. Maar ek kan nie veel daarvan onthou behalwe dat die water perfek was en my lyf baie beter gevoel het nie. Ons kon net nie ophou kyk na Alden nie, hoe foutloos mooi hy is nie, hoe vinnig hy arriveer het nie, en hoe flippen groot hy is nie! Ek wou nog in die parkeerarea stap en kontraksies in die maanlig hê en die leeus hoor brul!

Alden is kwart voor agt die aand gebore, 3.9kg, 53cm lank met ‘n 38cm kop.

Ons geboorte was verruklik.