Meng jou met die semels

My oorlede ouma en oupa het dagsorg gespeel toe ek klein was, en hulle het ons graag allerhande idiome en gesegdes geleer, veral dié met diere in:

  • Gesels ‘n hond uit ‘n bos uit
  • Al dra ‘n aap ‘n goue ring, hy is en bly ‘n lelike ding
  • As die kat weg is, is die muis baas
  • Meng jou met die semels en die varke vreet jou op

download

Noudat ek swanger is, beskou ek my kleintyd baie meer krities – wil ek dieselfde, soortgelyk of teenoorgestelde met/vir my kinders doen? Dis snaaks hoe klein goedjies uit jou 5-jarige verstand jou bybly meer as 20 jaar later – maar nie jou gunsteling hoërskoolonderwyser se naam nie.

Die sê-goed het ons natuurlik geleer dat kraaie maerder as varke is, dat honde in die bos wegkruip met snaakse gedagtes, dat ouer bokke jonger bome wil eet, dat kalkoenkuikens onnosel is en dat katte slinks is, maar nie veel werd is nie. Op skool het ons hierdie goed darem geweet, en die regte betekenisse ook leer verstaan, en op Sondagskool het ek besef mens kan net so lekker lag vir ‘n idioom as wat mens beledig kan word daardeur.

Afvlerkvoëltjies het ‘n sekere aantrekkingskrag, of dit nou vir my simpatieke hart of my ego is, weet ek nie, maar my skoolloopbaan was deurtrek van die goed, in menslike- en diervorm. As ek ‘n voëltjie of ‘n hondjie huis toe bring, het almal hul oë gerol en geglimlag. Maar wanneer ek die stukkende maatjies huis toe bring, is hulle gegroet met ‘n glimlag, ekstra brood gegee, maar agteraf kon ek die grootmense hoor fluister. Teen die tyd wat die gebreekte maatjies hoërskool bereik het, het hulle hulself begin probeer regmaak met dwelms en sigarette – en ek kon hulle nie net abandon nie! Hulle gewoontes het in elk geval nie aan my afgesmeer nie, en hoeveel erger sou hulle af wees as dit nie vir my was nie!

Sondagskooltannies en ouer ooms en tannies het ophou fluister en reguit gesê: Meng jou met die semels en die varke gaan jou opeet. Geen tiener luister na sulke nonsens nie – hulle het my dan nodig! Ek het my stert aan dit afgegee en voortgegaan om vriende te wees met al hierdie slegte invloede, sowel as die goeies. Uiteindelik het die onvermydelike gebeur, en ek het hulle ontgroei. Mens kan net solank iemand aanpor in die resies van die lewe, voordat jy self gaan moet hardloop om klaar te maak.

Nou wonder ek van voor af – hoe weet jy wie is ‘n semel, en wie is ‘n ongeslypte diamant, sonder om ‘n redelike hoeveelheid tyd in die persoon te belê? Jy is die gemiddeld van die 5 mense waarmee jy die meeste tyd spandeer. As dit 5 semels is, is daar minder hoop vir jou as wat jy dit saam met 5, verkieslik geslypte, diamante spandeer. Watokal die “hoop” beteken.

Maar iemand moet die diamante slyp. As ons, as ‘n samelewing, net opgee op alle wesens wat lyk soos semels, gaan niemand ooit ‘n diamant kry nie.

diamonds-in-the-rough

Ek weet nie eers wie die 5 mense is waarmee ek my tyd spandeer nie, my ouers (wie ek nie kan kies nie), my skoonouers en my man? As die baba nou kom, gaan ek ‘n skoonouer uit die nes uit moet skop? Is “5” net relatief? Ek het steeds vrek baie afvlerkvoëls in my lewe, almal wie ek probeer opvoed en slyp. En ‘n paar gewone voëls wat nie juis aan my lewe iets verander nie, en heeltemal te min mense wat ek voel my, as persoon, werklik verryk. En daar is áltyd nog afvlerkvoëls wat aanmekaar geplak moet word. ​

 

Advertisements

Genadig is die Dood

My oupa (97) en ouma (90) se gesondheid was ongelooflik goed tot ongeveer 2 jaar gelede. Dit was asof alles gelyk begin afdraande gaan het.

Vir voor die hand liggende redes het ons verwag dat my oupa se gesondheid eerste die emmer gaan skop, maar my ouma het eendag gestruikel (letterlik) en in ‘n gat van depressie verval.  Dit is asof sy eensklaps bewus geword het van haar eie sterflikheid. Sy het ophou eet, as gevolg van die ligte rugbesering het sy ophou loop en skuifelend haar pad deur die huis gemaak. My ouers moes begin om voorafbereide etes vir hulle te bring, want sy sien nie kans vir kosmaak nie (en my oupa is in 1922 gebore, mans het nie kos gemaak nie.) Met afpersing en omkopery het ons haar oortuig om ‘n biokinetikus te sien – en binne twee weke het sy ons spoggerig gewys hoe goed sy haar tuis-oefeninge regkry. Die biokinetikus het my ouma se beweeglikheid terug getoor in minder as ‘n maand, maar oor die depressie kon ons nie veel meer doen nie.

Dis waar wat hulle sê, healthy body, healthy mind. En die val het my ouma se verstandelike gesondheid aangetas – en daardeur haar fisiese gesondheid ook. Minder as 6 maande later het my oupa die eerste keer in die hospitaal beland, en veelvoudige verstopte hart-are is gevind. Die dokters het ‘n pasaangeërs oorweeg, besluit hy is te swak, en suurstof en ekstra pille voorgeskryf. Ná 2 weke is hy terug huis toe, en drie maande later is my ouma opgeneem met ‘n soortgelyke diagnose. Hierdie is ou mense wat minder as ‘n jaar gelede nog sit-ups en push-ups voor ontbyt gedoen het, en hul Eden van ‘n tuin onderhou het. Elke hospitaal verblyf het hulle meer verswak huis toe gestuur – die lê is sleg vir hul spiere en die hospitaal is sleg vir hulle gemoed. Ons het dag-verpleegsters aangestel – as my ouma val, kan my oupa haar nie help nie, en anders om.

Maar die hospitaalbesoeke het aanhou meer raak soos wat hul harte minder effektief pomp. Die dag-verpleegsters het 24/7 verpleegsters geraak. Die tuin-natmaak-uit-‘n-rolstoel het ‘n rolstoel rit deur die tuin geword. Vroeg in die bed klim het verander in ‘n middagslapie, in ‘n oggend-en-middag slapie, en toe net wakker om te eet sodat hulle pille kan drink. Doeke is nie meer net vir glipsies nie. Koekies saam die koffie het weggeval en die verpleegsters moes my oupa voer. My ouma pik-pik net om niemand aanstoot te gee nie.

Twee weke gelede kry my pa ‘n oproep van ‘n paniekerige verpleegster – my oupa se hande is potblou en hy lyk vreeslik, hulle weet nie wat om te doen nie. Daar gekom, die ambulans gebel, ouetehuis paramedici gebel, en hy is in ‘n buurdorp se hospitaal opgeneem, waar daar meer spesialiste is. Die staf daar het vir my ouers gesê dat dit nie goed lyk nie – hy het longontsteking opgedoen, alhoewel sonder simptome – moontlik omdat hy 20+ uur per dag geslaap (gelê) het. Hulle het my ouers aangeraai om een of ander belangrike Rooi Vorm te teken, waarop dit aanwys dat hy nie ge-resusitate mag word nie, en dat hulle nie life-support masjiene sal gebruik om hom aan die lewe te hou nie.

My pa, die landdros, kon nie die besluit maak nie, en het uitgestel deur eers met die familie te wil gesels. Almal was pro-Rooi Vorm – my oupa het geen kwaliteit lewe oorgehad nie, en om dit onnodig uit te rek is wreed. Deur nóg uit te stel om die vorm te teken, het die hospitaal geen keuse gehad as om ‘n ventilator te gebruik nie. My pa het toe wel die aand die vorm geteken: geen verdere masjiene gaan op hom gesit word nie.

Toe my pa my vertel dat my oupa op ‘n ventilator is, het hy die woorde gebruik: “anders sou hy versmoor”. Ek moes op daardie oomblik besef het dat my pa nie die gevreesde Rooi Vorm verstaan nie, en dat enige tekort aan behandeling vir hom gaan vertaal in versmoor, vergiftig, verdrink, vermoor…

My oupa se niere gee in, en my pa druk die hospitaal vir behandeling – maak nie saak wat dit is nie.  Die hospitaal het oorspronklik geweier om dialise op my oupa te doen – dis dan een van die masjiene wat die Rooi Vorm verban, en ons almal is mos op dieselfde bladsy dat ons nie sy lewe verder wil uitrek nie. So maak my pa die Rooi Vorm ongedaan, en my oupa word behandel met dialise. Hy oorwin die longontsteking, en my pa is in sy noppies omdat hy geslaag het om nie net my oupa nie te vermoor nie, maar ook om sy lewe te red.

Saterdag het my oupa se hart geheel en al ingegee –  die dialise was te veel gewees. My pa het my oupa se lewe verleng met twee weke. Twee weke, waar my ouma haarself moeg stres om die besoek saam hospitaal toe te maak. Twee weke waar my ouers te veel verlof moes insit om by die hospitaal uit te kom. Twee weke waar my ma van haar verstand af gaan omdat sy niks van haar eie lewe oor het nie. Twee weke wat my pa styf trek elke keer wat die foon lui, omdat dit “Die Oproep” kan wees. En toe kom Die Oproep.

Vir oulaas het hulle hospitaal toe gejaag, waar hulle kyk na nommers op die masjiene wat veronderstel is om my oupa lewendig te hou. Nommers wat nie sin maak nie, soos bloeddruk 11/10, ‘n hartklop van 20 kloppe per minuut, ‘n suurstof tekort alhoewel daar geen ooglopende rede daarvoor is nie. En toe die simpatie in die verpleegster se oë toe hulle vra of die masjiene reg is. Die laaste asem – niks anders as enige ander asem vir my oupa nie en die, alhoewel langverwagte, maar steeds aaklige, finale oomblik vir my pa.

Persoonlik het ek gehoop my oupa sterf twee weke gelede al, by die huis met my ouma se hand in syne, haar lippe op sy voorkop, voordat die ambulanse kom en sy dood stroop van persoonlikheid en liefde. Laat hy eerder versmoor in liefde en genade, as verdoof in ‘n koue hospitaal. ​

huge-kissing-assisted-living-couple-stafford-va-senior-living

-Image Source

2019-Nie-So-Magiese-Mamma

Einde 2018 het ek besluit ek het genoeg gehad van “tradisionele” mediese sorg in hierdie land. Die dokters hier maak geld hoe sieker jy is, in plaas daarvan om jou so vinnig as moontlik so gesond as moontlik te kry, en dit te bereik met die minimum medisyne, of ten minste medisyne met die minimum newe-effekte. Die tendens is om aan te hou dinge voorskryf om simptome in stede van oorsake te behandel, en dan nóg dinge voor te skryf vir die behandeling van die newe-effekte, en so voort. So ek het besluit genoeg is genoeg, dis tyd dat ek na ‘n “funksionele” dokter gaan – iemand wat my sal sê ek moet aan my dieet verander, eerder as om iets vir cholesterol of hoë bloeddruk voor te skryf en my aan te sê om voort te gaan soos altyd. Iemand eerlik.

So ek vind toe die hoogs aanbevole homeopaat in die dorp, kry ‘n afspraak, en is verbaas dat sy my ‘n uur en ‘n half ondervra oor my geskiedenis, besluite, pyne, skete, gevoelens en opinies, en elkeen van my (oordrewe baie) vrae geduldig beantwoord. En my stuur vir ‘n honderd bloedtoetse, wat sy met die volgende afspraak interpreteer, en ‘n paar supplements voorskryf en ‘n paar leefstyl veranderinge voorstel. Hierdie goed laat my onder-aktiewe skildklier probleme toe verdwyn en my aansienlik beter laat voel oor my gesondheid.

Een van my vrae is wanneer ek die voorbehoeding kan los om te probeer swanger raak. Sy sê gemiddeld neem dit omtrent 6 maande om weer normaal te ovuleer ná iemand so lank op voorbehoeding was, en ons kan so lank begin probeer, maar ons moenie hoopvol wees nie, veral as gevolg van my onder-aktiewe skildklier wat vrugbaarheid beïnvloed. En toe raak ons swanger voor ek eers een keer menstrueer nadat ek die Pil gelos het.

Wat ‘n wêreld het toe skielik ‘n realiteit geraak!

Natuurlik het ek vooropgestelde idees en oortuigings, en meeste daarvan is redelik teenstrydig met wat as “gemiddeld” of “normaal” aanvaar word vandag. Ek wil ‘n unmedicated vaginale geboorte hê, ek wil borsvoed, ek wil nie fopspene of weggooi doeke gebruik nie. En ek wou glad nie weet of ons ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie gaan kry nie.

So, nadat ek op die eerste stokkie gepiepie het (meer ingewikkeld as wat die flieks dit laat lyk – dis nie so maklik om vinnig in die winkelsentrum se badkamers die stokkie raak te piepie en die resultaat te kry nie!) en my man gesê het, het ons ‘n volle 12 uur kon uithou voordat ons ons ouers sê. Van daar af het dinge ongelooflik stadig gebeur, maar alles was net so oorweldigend. Ek het ‘n vroedvrou en ‘n doula gekry, ‘n geboortebad gehuur, ‘n back-up ginekoloog gevind, by die dokter uitgekom, en nog ‘n 100 klein administratiewe dinge gedoen. Ek het vir mense gesê ek wil dat almal saam met ons by die baba-tee die baba se geslag uitvind, want ek soek nie ‘n 1000 pienk of blou klerepakkies nie.

Al hierdie dinge het ek met manlief bespreek voordat daar twee strepies op ‘n stokkie was – maar dit het my effens paniekerige swangerskapbrein heeltemal ontglip om weer met hom daaroor te gesels, noudat dit meer as net lugkastele bou is. Amper halfpad deur die swangerskap bars die bom en hy verduidelik vir my hoe belangrik die geslag vir hom is –  hy kan nie die toekoms indink sonder om te weet wat dit is nie. Tannies en ooms en kollegas en oumas en oupas dryf ons ook tot raserny met die vrae oor wanneer ons weet wat dit is, wanneer kan hulle koop en vra simpel vrae oor hoe ons kan beplan sonder om te weet en wat die kamer se tema dan gaan wees, bytjies?

Ek gee toe in – dis ‘n klein prys om te betaal sodat Ian beter kan droom oor die toekoms. Gelukkig het ek vir ‘n papiertjie gevra by die laaste sonar, en ek gee dit toe vir hom, sodat ons kan weet. En toe sê ons ons super ondersteunende ouers en meer inmengerige familie, met die hoop dat hulle van ons rug kan afkom, en ons kan fokus om die “belangriker” gevegte, soos kraam en borsvoeding.

Dis toe dat ons besef ons gaan niemand van ons rug afkry deur in te gee oor enigiets nie. Want die oomblik toe die mense weet wat dit is, begin hulle druk vir name en betekenisse daarvan en kamertemas en “speelgoed vir die bulletjie”! Wat my effens korter-as-gewoonlik humeur goed laat vlam vat het – dit het letterlik niks met hulle te make wat ek in my maag ronddra en wat ons hom gaan noem eendag nie!

Wysneuserige familie op sy gesit, ek het ‘n baie meer magiese swangerskap verwag. Sover ondervind ek die hele affêre as ‘n groot anti-klimaks. Toe ek 7 weke swanger was, het ek doodsiek geword van mangelontsteking en bronchitis en wie weet wat nog – was 3 weke afgeboek om oor dit te probeer kom met die minimum medisyne en geen pynstillers nie. Daarna het ons agter gekom dat niemand ooreenstem met wanneer watter toetse gedoen moet word nie, en ons mis die Down Sindroom ondersoek geheel en al, en eindig op om 2 sonars voor 20 weke te doen – ook iets wat ek tot die heel minimum wil hou. Die een mediese sorg verskaffer sê ten minste 4 liter water, en die ander sê niks meer as 3 liter nie. Die een sê doen die 12 weke sonar, die ander sê wag eerder tot 16 weke. Een sê vermei maag oefeninge soos die pes, en die ander sê maag oefeninge is belangrik.  En so jaag ons ons sterte om te probeer byhou met die tydbom in my maag. Met die laaste sonar sien ons die plasenta sit voor, so ek gaan nie die baba kan voel tot ten minste 24 weke nie. Terwyl my denims te styf begin sit, en ek steeds meer vet as swanger lyk, kan ek nie help om nie regtig swanger te voel nie. Al “bewyse” wat ek het is ‘n dokter, homeopaat, sonograaf, osteopaat en vroedvrou wat nie eers kan saam stem op wat ek moet drink nie, wat nog te sê van die res!​

3d7d51078051decb444bb345049ced38-46pzwm

Wanneer Asem Lug Word

Onlangs het ek “When Breath Becomes Air” deur Paul Kalanithi gelees. Meneer Kalanithi was ‘n neurochirurg, en is toe gediagnoseer met longkanker. Die tipe kanker wat ‘n doodsvonnis is.

Die boek gaan oor hoe Kalanithi medies studeer, sy vroeë en latere dae in hospitale, die druk waaronder sy passie vir Medici hom en sy verhouding met sy vrou sit. Verder vertel hy van sy obsessie om die lewe, en daarmee saam die dood, te verstaan – en natuurlik, hoe hy later die geleentheid kry om van aangesig tot aangesig kom met dít wat hy probeer ontsyfer – terwyl sy verstand nog redelik helder is.

Stories wat hy vertel oor wat “agter die skerms” in hospitale aangaan, het my nekhare laat rys, maar het ook vir my ‘n vreemde simpatie met mense in sy skoene ( dokters, nie kankerlyers nie) gegee. Ek vertrou die meerderheid van dokters nie so ver as wat ek hulle kan gooi nie, en dinge wat hy vertel, maak nogal sin. Nou is dokters meer én minder mens as wat ek voorheen gedink het. Maar ek dwaal van die punt af.

Eintlik is die boek filosofies. Dit vra vrae oor die lewe en dood, en gee antwoorde wat meer vrae by die leser skep. Van kleintyd af, het die dood my so bietjie gefassineer – en hierdie boek het daardie itch gescratch. Kalanithi sê dinge soos dat ‘n dokter ook moet besluit wanneer om ‘n pasiënt te behandel, en wanneer is dit tyd om te laat gaan. Net omdat hy iemand aan die lewe kan hou, beteken nie hy moet nie. En dit vra die vraag, wanneer is dit “lewe” vir die pasiënt? As iemand nooit weer kan praat, lees, kommunikeer op enige vlak nie – is dit lewe? Die rule of thumb is nee, dis nie die moeite werd om iemand aan die lewe te hou as daardie deel van die brein beskadig is nie. Ons is tropdiere, wat is ons sonder kommunikasie?

Maar sonder die eenvoud van die rule of thumb – wat as ‘n musikant nooit weer kan speel, sing of hoor nie? Wat as ‘n atleet nooit weer kan hardloop nie – as ‘n chirurg nooit weer naby ‘n teater kan kom nie? Wat as jou man en kinders dood is in dieselfde ongeluk wat van jou ‘n parapleeg maak? Wat as jy nooit weer kan asem haal sonder ‘n masjien wat jou longe op- en af-pomp nie? Party vrae is vir my, wie nie ‘n chirurg is nie, wie nie ‘n noot kan hou nie, wie nie vir die atletiekbaan gemaak is nie, ‘n maklike “ja, natuurlik wil ek lewe, dan doen ek mos net iets anders.” Maar as my man en toekomstige kinders weg is, as ek vasgevang in ‘n bed is met slegs my verstand as vermaak, sal ek verkies om eerder te gaan na waar my hart regtig is. En dit is wanneer die dokter veronderstel is om sy pasiënt te leer ken – en te weet wat om te maak in so situasie. Nie dat dit realiteit in ons land is nie – ons dokters hou te veel van ons medies uitput. Kalanithi het ook op ‘n punt besluit dat ‘n ventilator net sy lyding gaan verleng – hy wil eerder in die bed met sy dogtertjie in sy arms en sy familie rondom hom weggaan. Wie is ons om hom te ontneem van ‘n vredevolle dood? Wie is ons om te sê wanneer lug nie meer asem is vir hom nie -wanneer lewe betekenis verloor het?

Met al die bogenoemde in gedagte, asook die onlangse afsterwe van my man se tannie as gevolg van nalatige, privaat mediese sorg (gewag tot blindederm bars voor hulle opereer, toe die derm aan die maagwand vasgewerk, toe nie behoorlik skoongemaak nie) – is my ouma (90) en my oupa (97) se lywe besig om in te gee. En ook my pa se Alsatian se lyf, wat hierdie jaar 17 word.

Die arme hond kan nie meer haar maag beheer nie, en is te swak om lekker op die been te kom as sy eers haar lê gekry het. Dit maak my ma moedeloos om haar so te sien ly, maar nóg sy, nóg my pa wil haar uit haar ellende sit. Toe ek my ma uitvra daaroor, bars sy in trane uit, en sê dit voel vir haar asof my ouma en oupa dit nie gaan maak as Jess dit nie maak nie. En ek vermoed my pa voel dieselfde.

My oupa het opsitte, opstote en allerlei strekoefeninge gedoen, voordat hy die tuin gaan verdrink het en dan ontbyt gaan eet het – tot en met ‘n jaar terug. My ouma het so vinnig beweeg, dat haar kleinkinders skaars kan byhou – tot en met ses maande gelede. My oupa het veelvoudige, klein hartaanvalle gehad, en my ouma ‘n klein beroerte. Nie een van hulle se harte werk meer lekker nie, en die wisselende temperature in Gauteng die laaste paar weke veroorsaak dat hul reeds oorwerkte harte ‘n groter poging moet aanwend om die bloed deur hulle are te kry. As dit warm is, vergroot die are en meer bloed moet deur die are in dieselfde hoeveelheid tyd gepomp word. As dit koud is, vernou die reeds verstopte are, en die hart sukkel om genoeg bloed deur te stoot. Hulle lywe suffer. En a healthy body, healthy mind – nie een van die twee oumense sien meer kans nie.

My ouma weier om weer dokter toe te gaan – ooit. Hul voltydse verpleër & my ouers het my ouma se lewe by ‘n haarlengte gered in Julie, en weer in Desember. Nou sê my ouma ons moet haar eerder laat sterf as haar ooit weer hospitaal toe neem. My oupa vra deesdae self om dokter toe te gaan as hy sleg voel – wat een maal ‘n week is. My ouers ken nou al die pille en die simptome wat dit behandel, en kan met die hulp van ‘n klein hartklop masjien, ‘n klein bloeddruk masjien, ‘n klein hartritme masjien & 10 ander klein masjiene bepaal watter medikasie ‘n groter of kleiner dosis van nodig is. Drie uit vier keer kon hulle hom laat beter voel, maar omtrent elke maand of twee is dit terug dokter of hospitaal toe, waar hulle sy medikasie fyner aanpas, en sê hulle kan niks vir hom doen nie.

Saam met die gedagtes wat When Breath Becomes Air geplant het, kan ek nie help om te wonder hoe lank ons my ouma en oupa en Jess se lewe net-net moet red om hulle sodoende naby ons te hou nie. My oupa se verstand is nie meer daar nie, en my ouma s’n haal syne vinnig in. Ons moes vier keer vir hom verduidelik dat daar klappers op die tafel is, omdat dit Kersfees is, of dit die Kersboom daar is, want dis Kersfees. Hy slaap omtrent 20 ure van ‘n dag om, en geniet nie meer die tuin, kos, blokkiesraaisels of enigiets nie. Dieselfde met my ouma – sy wil nie loop nie, nie bad nie, nie hekel of lees nie. Al hul passies het weggesmelt in die niet. Hulle lewe slegs vir mekaar.

Husband-comforting-wife-i-008

-Source

Die oomblik wat ons te laat is om een van hulle te red, gaan die ander een in baie min tyd volg. En ek sien amper-amper uit daarna. Dit laat my aaklig voel – asof ek wens hulle gaan dood – maar wat ons hulle forseer om te doen nou, is nie wat hulle as “lewe” sal beskou nie. As dit nie vir die voltydse verpleërs was nie, wat hulle in- en uit- rolstoele tel en rondbeweeg nie, was hulle bedlêend. Daar is nie meer pret in die lewe nie. Ek sal eerder langs twee grafte staan en weet hulle stap hand-aan-hand êrens in ‘n park wat net hulle kan onthou, as om hulle so te sien wegkwyn.

Probleem opgelos

Eva is in haar dertigs, en ‘n feminis van formaat. Sy het wilde rooi hare, lang onderarmhare en bloedrooi lippe. Sy besit ‘n koffie-winkel in die Kaapse middestad, waar sy vergaderings na-ure hou vir die “Onafhanklike Oujongnooiens”, die “Bra-lose bitches” en ander soortgelyk.

Wanneer Eva nie mans probeer oortuig om grimering te probeer of vrouens te oortuig om hulle beenhare te laat groei nie, observeer sy haar kliënte. Party kom gereeld, party is duidelik toeriste, en party kom net een keer en besluit dis nie hulle smaak nie.

Daar is ‘n egpaar wat Eva fassineer, ‘n jong-getroude paartjie – ‘n pieperige vroutjie wat wegkruip in vaal klere, en ‘n man wie se teenwoordigheid baie spasie opvat. Die dame dra altyd ‘n truitjie en outydse lang rompe, ongeag die seisoen. Die man lyk na ‘n grootkop in besigheid met ‘n spoggerige pak en ‘n stem wat hard praat.

Tyd gaan verby, en die paartjie kom gereeld koffiewinkel toe. Die vrou lyk al kleiner en banger.

Op ‘n dag vang Eva haar in die badkamer, en sien die blou kolle op haar skouers. Eva besef die vrou word mishandel, en konfronteer haar. Die vrou is te bang vir haar man om enigiets omtrent haar situasie te doen.

Eva lyk vasbeslote, en verduidelik aan haar personeel dat sy van nou af alleen verantwoordelik is vir die man se koffie.

Tyd stap verby, en die keer verswak die man. Sy vel raak vaal, sy klere sit losser. En op ‘n dag kom die vroutjie alleen.

Eva glimlag toe sy uitstap en gaan bêre ‘n strokie met sy handtekening in ‘n boks vol waarop staan “Opgeloste Probleme.” Die boks is vol strokies met ander handtekeninge.

.

Die Plastiek Probleem

Almal weet van aardsverhitting en klimaatsverandering en hoe skadelik dit is. En, bewustelik of onbewustelik, probeer  almal so nou en dan ietsie doen om ‘n (baie) klein bietjie minder skade aan die natuur te rig. Of dit nou is om jou sigaretstompie in ‘n asblik te gooi, om jou eie kompos hoop te hê, om herwinbare sakke te gebruik of eerder te loop as êrens te ry – dis iets!

Met Lize se ondersteuning, raak ons al meer bewus van die skadelike dinge wat ons doen:  plastieksakkies om space food (readymade meals) te vries by die huis. Tien strooitjies by restaurante of wegneem eetplekke (waarvan die ongebruiktes ook net so weggegooi word,) wegneem koppies by die koffie stasies by die werk… Al hierdie klein goedjies dra by tot die kilometers van see wat toe lê onder (en soms bo) lae en lae van plastiek.

default-1510139644-cover-image-Source

Ons gebruik nou herbruikbare sakke vir kruideniersware (as ons dit vergeet moet ons alles met die hand dra as ‘straf’ – anders hoe gaan ons leer?), ons vat ons eie bekers na die koffie stasie en gebruik bakkies in plek van sakkies om dinge in te vries. Lize (‘n bestuurder by ‘n franchise restaurant – nie Spur nie), neem deel aan die The Last Straw projek en deel slegs strooitjies uit saam met melkskommels of wanneer die kliënte vra. Ocean Basket is ook deel hiervan, en Mugg & Bean het nou die aller-aakligste papier-strooitjies begin gebruik.

cover-15

-Source

So ‘n tydjie gelede is ons by ‘n kunsmark, waar die mense blyk om ook baie natuurbewus te wees, en ons kry papier-strooitjies saam met ons drankies! Vir die eerste 10 minute was ons vreeslik beïndruk. En toe besef ek hulle het ons ‘n ekstra R 5.00 gevra per strooitjie, en die strooitjie het stiptelik verander in ‘n papperysel. Ons besluit toe dat metaal-, bamboes- of silikon- strooitjies beter sal wees, omdat dit herbruikbaar is en wonder of papier strooitjies nie slegter is vir die natuur as wat mense wil voorgee nie.

Al die maatskappye wat sê “save a tree – think before you print” of “save the environment, go paperless” en so aan, laat mens glo om papiergebruik te verminder voordelig is vir natuur. Maar is dit regtig?

Baie vegetariërs vermy vleis omdat beespoep ‘n aansienlike aandeel het in die hoeveelheid skadelike gasse in die atmosfeer – of hulle verkies “grassfed” beeste – wat minder gasse vrystel omdat hulle nie soveel  ekstra hormone en antibiotikums inkry nie. Toe die gemeenskap uitvind Woolworths se heilige beeste is nie so heilig nie, toe stop hulle om Woolworths se nie-so-heilige melk te koop nie. Ons wil minder plastiek in die see hê – so ons gebruik minder plastiek. Ons wil meer appels hê, so ons koop meer appels. Ons wil eerder klein besighede as groot besighede ondersteun, so ons spandeer ons geld by die klein plekkies.

Alle aktivis-dinge soos hierdie, kom terug na die eenvoudige “vraag-en-aanbod” konsep. Hoe meer van ‘n produk mense bereid is om te koop teen ‘n prys, hoe meer van daardie produk is beskikbaar. Hoe meer plastiek mens koop, hoe meer plastiek ís daar om te koop. Hoe meer brood mens koop, hoe meer brood is beskikbaar in die winkel, hoe meer rak spasie neem dit op en hoe groter verskeidenheid is daar. As ‘n restaurant besef almal koop hulle lasagne, sal hulle dit nie  afhaal wanneer die menu verander nie. Solank as wat mense hoeders en eiers koop, gaan mense teël met hoenders.

Gaan papier (plantasies) nie dan presies dieselfde werk nie? Hoe meer houtprodukte daar gebruik word, hoe groter is die nood om plantasies beter in stand te hou, te vergroot, te versprei of die hoeveelheid te vermeerder. ‘n Paar artikels op die internet stem saam, papier- en houtverbruik is nie die aarde se vyand soos wat plastiek en beeste is nie – die vermeerderde plantasies is goed vir die atmosfeer. Ontbossing is natuurlik ‘n hele ander probleem, maar dit het nie juis veel met die houtindustrie te doen nie – eerder met oorlewing van die ongeleerde, werklose, huislose slagoffers van swak regerings.

So, as ons ietsie (kleins) vir die natuur wil doen – vermy plastiek (veral dié wat mens net een keer gebruik en weggooi) en probeer die papier of bamboes of metaal alternatiewe. Dis ‘n awesome ondervinding saam met die regte mense – dit kan ‘n regte speletjie wees om aan kreatiewe alternatiewe te dink!

Vet

My ma was vet vir solank as wat ek kan onthou.

My ouma en oupa het geen genade gehad om die 5-jarige ek te leer om sensitief oop te tree oor oorgewig mense nie. My ouma was skraal, en my oupa het ‘n XXL strandbal-grootte bierpens gehad. Wanneer ek vir my ouma ‘n drukkie gegee het en met my hande aan mekaar agter haar rug geraak het, was ek ‘geleer’ om te sê dat sy so maer soos ‘n kraai is. As ek dieselfde met my oupa doen en soos ‘n muskiet teen ‘n windskerm lyk wanneer ek my arms om hom probeer vou, was ek prettig aangemoedig om hom so vet soos ‘n vark te noem.

Hierdie kras beskrywings het veroorsaak dat my vrae aan my ma oor haar gewig nie altyd delikaat gestel was nie. Ek kon nooit verstaan hoe die maer vrou met sprokiesmooi krulhare, vol lippe en prag kurwes in hul trou-album dieselfde vrou as my ma is nie. Alhoewel onskuldig (en taktloos) het die vrae uiteraard aanstoot gegee, en my ma het dit nooit beantwoord nie.

Toe ek omtrent 10 was en na ‘n foto-album saam my ander ouma kyk, het ek kinderlik hardop gewonder hoekom my ma so vet is. My Ouma het geantwoord dat dit maar net gene is. Ons het begin glo vet is soos oogkleur – iets totaal buite ons beheer. Ek was steeds geskok en het gesê dat ek hoop ek dit nie geërf het nie, ek wil nooit so vet wees nie! My ma het gehoor en was vir ‘n week smoorkwaad vir my – ‘n kind wat nie kon verstaan wat sy verkeerd gesê het nie.

Op 14 het ek begin wonder of ek dalk vet is (ek was nog nie) – maar sy het aangedring dat ek perfek is. Binne 2 jaar na skool het ek omtrent 20kg opgetel. En dit nie eers besef nie. Toe ek nie meer in my gunsteling denims pas nie, en my ma probeer vra het, het sy dit aanhou ontken. Die denims moes in die was gekrimp het. Die groottes klere in die winkels moes verander het. Dis babavet wat ek enige tyd nou gaan ontgroei.

Nou weet ek dat sy my die pyn wou spaar wat sy telkemale ervaar het, dat sy dit uit die diepte van haar liefde vir my gedoen het.

Ek kan nie help om te wens dat sy eerder net eerlik was met my (en my oorgewig boetie) en ons gesonde eetgewoontes van die begin af geleer het nie.

In stede daarvan het sy ons geleer:

  1. As lekkergoed altyd beskikbaar is wanneer ons sou lus kry daarvoor, sal ons nie onsself daaraan vergryp by partytjies nie
  2. Nagereg maak nie vet nie
  3. Meisies wat nie konstant na hulle dieet kyk nie, het meer pret
  4. Pasta, bruinbrood en heuning is 100% gesond
  5. Vetvrye soetgoed soos jellybabies is wetenskaplik nie in staat om vet te maak nie
  6. Mense wat heeldag eet en koek vir ontbyt eet, word vet

Op kollege, het ek dus pizza saam die ouens geëet – ELKE KEER – want ek is mos “pret”. By casual vergaderings het ‘n melkskommel bestel, want ek “lewe voluit”. Toe begin ek die dubbel kennetjie sien, en blameer (soos my ma), die lig in die spieël of die hoek waaruit die foto geneem is.

Deur ‘n reeks onrelevante gebeurtenisse eindig ek en my ma by ‘n endokrinoloog (hormoon-dokter, want ons het onaktiewe skildkliere) op. Hy praat wiskunde en biologie en praat wetenskaplike groot woorde. En sê al ons vorige dokters is kwakke wat ons verkeerd getoets en behandel het. Hy sê ons moet ophou stysel eet en nuwe medikasie gebruik.

Ek vermy stysel  – verduidelik vir mense dat ek allergies daarvoor is, en verloor 25kg. My ma ook, maar sy kroek nou en dan. Intussen het ek weer 10kg opgetel, maar ek is gesond en sterk en fiks. My ma het weer ophou probeer.

Ek (en my soettand) en my verhouding met kos het nog ‘n baie ver pad om te gaan, en eerlik het ek geen idee hoe om dit verder te vat nie… Dit voel of ‘n eerlike opvoeding my volwasse jare meer sou ondersteun en dra, as die soet leuens wat ek met soveel liefde gegee is en ontvang het.