2019-Nie-So-Magiese-Mamma

Einde 2018 het ek besluit ek het genoeg gehad van “tradisionele” mediese sorg in hierdie land. Die dokters hier maak geld hoe sieker jy is, in plaas daarvan om jou so vinnig as moontlik so gesond as moontlik te kry, en dit te bereik met die minimum medisyne, of ten minste medisyne met die minimum newe-effekte. Die tendens is om aan te hou dinge voorskryf om simptome in stede van oorsake te behandel, en dan nóg dinge voor te skryf vir die behandeling van die newe-effekte, en so voort. So ek het besluit genoeg is genoeg, dis tyd dat ek na ‘n “funksionele” dokter gaan – iemand wat my sal sê ek moet aan my dieet verander, eerder as om iets vir cholesterol of hoë bloeddruk voor te skryf en my aan te sê om voort te gaan soos altyd. Iemand eerlik.

So ek vind toe die hoogs aanbevole homeopaat in die dorp, kry ‘n afspraak, en is verbaas dat sy my ‘n uur en ‘n half ondervra oor my geskiedenis, besluite, pyne, skete, gevoelens en opinies, en elkeen van my (oordrewe baie) vrae geduldig beantwoord. En my stuur vir ‘n honderd bloedtoetse, wat sy met die volgende afspraak interpreteer, en ‘n paar supplements voorskryf en ‘n paar leefstyl veranderinge voorstel. Hierdie goed laat my onder-aktiewe skildklier probleme toe verdwyn en my aansienlik beter laat voel oor my gesondheid.

Een van my vrae is wanneer ek die voorbehoeding kan los om te probeer swanger raak. Sy sê gemiddeld neem dit omtrent 6 maande om weer normaal te ovuleer ná iemand so lank op voorbehoeding was, en ons kan so lank begin probeer, maar ons moenie hoopvol wees nie, veral as gevolg van my onder-aktiewe skildklier wat vrugbaarheid beïnvloed. En toe raak ons swanger voor ek eers een keer menstrueer nadat ek die Pil gelos het.

Wat ‘n wêreld het toe skielik ‘n realiteit geraak!

Natuurlik het ek vooropgestelde idees en oortuigings, en meeste daarvan is redelik teenstrydig met wat as “gemiddeld” of “normaal” aanvaar word vandag. Ek wil ‘n unmedicated vaginale geboorte hê, ek wil borsvoed, ek wil nie fopspene of weggooi doeke gebruik nie. En ek wou glad nie weet of ons ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie gaan kry nie.

So, nadat ek op die eerste stokkie gepiepie het (meer ingewikkeld as wat die flieks dit laat lyk – dis nie so maklik om vinnig in die winkelsentrum se badkamers die stokkie raak te piepie en die resultaat te kry nie!) en my man gesê het, het ons ‘n volle 12 uur kon uithou voordat ons ons ouers sê. Van daar af het dinge ongelooflik stadig gebeur, maar alles was net so oorweldigend. Ek het ‘n vroedvrou en ‘n doula gekry, ‘n geboortebad gehuur, ‘n back-up ginekoloog gevind, by die dokter uitgekom, en nog ‘n 100 klein administratiewe dinge gedoen. Ek het vir mense gesê ek wil dat almal saam met ons by die baba-tee die baba se geslag uitvind, want ek soek nie ‘n 1000 pienk of blou klerepakkies nie.

Al hierdie dinge het ek met manlief bespreek voordat daar twee strepies op ‘n stokkie was – maar dit het my effens paniekerige swangerskapbrein heeltemal ontglip om weer met hom daaroor te gesels, noudat dit meer as net lugkastele bou is. Amper halfpad deur die swangerskap bars die bom en hy verduidelik vir my hoe belangrik die geslag vir hom is –  hy kan nie die toekoms indink sonder om te weet wat dit is nie. Tannies en ooms en kollegas en oumas en oupas dryf ons ook tot raserny met die vrae oor wanneer ons weet wat dit is, wanneer kan hulle koop en vra simpel vrae oor hoe ons kan beplan sonder om te weet en wat die kamer se tema dan gaan wees, bytjies?

Ek gee toe in – dis ‘n klein prys om te betaal sodat Ian beter kan droom oor die toekoms. Gelukkig het ek vir ‘n papiertjie gevra by die laaste sonar, en ek gee dit toe vir hom, sodat ons kan weet. En toe sê ons ons super ondersteunende ouers en meer inmengerige familie, met die hoop dat hulle van ons rug kan afkom, en ons kan fokus om die “belangriker” gevegte, soos kraam en borsvoeding.

Dis toe dat ons besef ons gaan niemand van ons rug afkry deur in te gee oor enigiets nie. Want die oomblik toe die mense weet wat dit is, begin hulle druk vir name en betekenisse daarvan en kamertemas en “speelgoed vir die bulletjie”! Wat my effens korter-as-gewoonlik humeur goed laat vlam vat het – dit het letterlik niks met hulle te make wat ek in my maag ronddra en wat ons hom gaan noem eendag nie!

Wysneuserige familie op sy gesit, ek het ‘n baie meer magiese swangerskap verwag. Sover ondervind ek die hele affêre as ‘n groot anti-klimaks. Toe ek 7 weke swanger was, het ek doodsiek geword van mangelontsteking en bronchitis en wie weet wat nog – was 3 weke afgeboek om oor dit te probeer kom met die minimum medisyne en geen pynstillers nie. Daarna het ons agter gekom dat niemand ooreenstem met wanneer watter toetse gedoen moet word nie, en ons mis die Down Sindroom ondersoek geheel en al, en eindig op om 2 sonars voor 20 weke te doen – ook iets wat ek tot die heel minimum wil hou. Die een mediese sorg verskaffer sê ten minste 4 liter water, en die ander sê niks meer as 3 liter nie. Die een sê doen die 12 weke sonar, die ander sê wag eerder tot 16 weke. Een sê vermei maag oefeninge soos die pes, en die ander sê maag oefeninge is belangrik.  En so jaag ons ons sterte om te probeer byhou met die tydbom in my maag. Met die laaste sonar sien ons die plasenta sit voor, so ek gaan nie die baba kan voel tot ten minste 24 weke nie. Terwyl my denims te styf begin sit, en ek steeds meer vet as swanger lyk, kan ek nie help om nie regtig swanger te voel nie. Al “bewyse” wat ek het is ‘n dokter, homeopaat, sonograaf, osteopaat en vroedvrou wat nie eers kan saam stem op wat ek moet drink nie, wat nog te sê van die res!​

3d7d51078051decb444bb345049ced38-46pzwm

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s