Vet

My ma was vet vir solank as wat ek kan onthou.

My ouma en oupa het geen genade gehad om die 5-jarige ek te leer om sensitief oop te tree oor oorgewig mense nie. My ouma was skraal, en my oupa het ‘n XXL strandbal-grootte bierpens gehad. Wanneer ek vir my ouma ‘n drukkie gegee het en met my hande aan mekaar agter haar rug geraak het, was ek ‘geleer’ om te sê dat sy so maer soos ‘n kraai is. As ek dieselfde met my oupa doen en soos ‘n muskiet teen ‘n windskerm lyk wanneer ek my arms om hom probeer vou, was ek prettig aangemoedig om hom so vet soos ‘n vark te noem.

Hierdie kras beskrywings het veroorsaak dat my vrae aan my ma oor haar gewig nie altyd delikaat gestel was nie. Ek kon nooit verstaan hoe die maer vrou met sprokiesmooi krulhare, vol lippe en prag kurwes in hul trou-album dieselfde vrou as my ma is nie. Alhoewel onskuldig (en taktloos) het die vrae uiteraard aanstoot gegee, en my ma het dit nooit beantwoord nie.

Toe ek omtrent 10 was en na ‘n foto-album saam my ander ouma kyk, het ek kinderlik hardop gewonder hoekom my ma so vet is. My Ouma het geantwoord dat dit maar net gene is. Ons het begin glo vet is soos oogkleur – iets totaal buite ons beheer. Ek was steeds geskok en het gesê dat ek hoop ek dit nie geërf het nie, ek wil nooit so vet wees nie! My ma het gehoor en was vir ‘n week smoorkwaad vir my – ‘n kind wat nie kon verstaan wat sy verkeerd gesê het nie.

Op 14 het ek begin wonder of ek dalk vet is (ek was nog nie) – maar sy het aangedring dat ek perfek is. Binne 2 jaar na skool het ek omtrent 20kg opgetel. En dit nie eers besef nie. Toe ek nie meer in my gunsteling denims pas nie, en my ma probeer vra het, het sy dit aanhou ontken. Die denims moes in die was gekrimp het. Die groottes klere in die winkels moes verander het. Dis babavet wat ek enige tyd nou gaan ontgroei.

Nou weet ek dat sy my die pyn wou spaar wat sy telkemale ervaar het, dat sy dit uit die diepte van haar liefde vir my gedoen het.

Ek kan nie help om te wens dat sy eerder net eerlik was met my (en my oorgewig boetie) en ons gesonde eetgewoontes van die begin af geleer het nie.

In stede daarvan het sy ons geleer:

  1. As lekkergoed altyd beskikbaar is wanneer ons sou lus kry daarvoor, sal ons nie onsself daaraan vergryp by partytjies nie
  2. Nagereg maak nie vet nie
  3. Meisies wat nie konstant na hulle dieet kyk nie, het meer pret
  4. Pasta, bruinbrood en heuning is 100% gesond
  5. Vetvrye soetgoed soos jellybabies is wetenskaplik nie in staat om vet te maak nie
  6. Mense wat heeldag eet en koek vir ontbyt eet, word vet

Op kollege, het ek dus pizza saam die ouens geëet – ELKE KEER – want ek is mos “pret”. By casual vergaderings het ‘n melkskommel bestel, want ek “lewe voluit”. Toe begin ek die dubbel kennetjie sien, en blameer (soos my ma), die lig in die spieël of die hoek waaruit die foto geneem is.

Deur ‘n reeks onrelevante gebeurtenisse eindig ek en my ma by ‘n endokrinoloog (hormoon-dokter, want ons het onaktiewe skildkliere) op. Hy praat wiskunde en biologie en praat wetenskaplike groot woorde. En sê al ons vorige dokters is kwakke wat ons verkeerd getoets en behandel het. Hy sê ons moet ophou stysel eet en nuwe medikasie gebruik.

Ek vermy stysel  – verduidelik vir mense dat ek allergies daarvoor is, en verloor 25kg. My ma ook, maar sy kroek nou en dan. Intussen het ek weer 10kg opgetel, maar ek is gesond en sterk en fiks. My ma het weer ophou probeer.

Ek (en my soettand) en my verhouding met kos het nog ‘n baie ver pad om te gaan, en eerlik het ek geen idee hoe om dit verder te vat nie… Dit voel of ‘n eerlike opvoeding my volwasse jare meer sou ondersteun en dra, as die soet leuens wat ek met soveel liefde gegee is en ontvang het.

Advertisements

5 thoughts on “Vet

  1. Ja, ek lees jou smart raak. Ek sukkel ook met vetmense en moet myself gedurig herinner dat dit net ‘n aardse vorm is wat geen ewigheidswaarde inhou nie – ek probeer hard om deernis met oorgewig mense te hê. Ek is doodbang vir oorgewig wees. Ekself is versot op stysel en noudat ek in my middeljare is wys dit gou as ek te lank aanmekaar stysel.
    Ek het empatie met jou ma, want ekself sou dit ook nie kon deurvoer nie – jou selfdissipline spreek boekdele – maar ongelukkig word ouerskap nie met ‘n handleiding gegee nie en gee ouers net dit wat in hul harte is, juis om hul kinders te spaar en met reg is jy vies want goeie gesondheidsraad van jongs af is net goed, maar ma’s is baie bang om hul kinders te laat dink hulle is nie goed genoeg vir ons nie, ons sou hulle eerder in ‘n ander vorm verkies het. Sterkte met jou gewigsplan ek glo jy gaan dit maak werk 🤗🤗

    Like

    1. Hoe ouer ek raak, hoe meer besef ek die dinge wat my ma gedoen het, was (en is) met liefde uit die diepte van haar hart!! En eks seker dis juis as gevolg van hierdie liefdevolle wit leuntjies dat ek vandag ‘n effens mollige maar baie selfversekerde vrou is, en daarvoor sal ek ewig dankbaar wees!

      Like

  2. Menz is nie vet nie, menz HET vet. Ja, gene het baie daarmee te doen, maar nie alles nie.

    In een van menz se vorige lewens was menz ‘n skraal seningrige man met GEEN vet nie. So menz verstaan dat dit kom en gaan, en dis ok. Vet is nie die mens nie of die menz se persoonlikheid nie, dis net ‘n vorm.

    Menz is ‘n emosionele eter …

    Like

    1. Darm kom en gaan dit!! Party mense, soos my ma, het aspekte van haar persoonlikheid wat gedefinieer is deur haar liggaam – sy haat dit en dit breek my hart om haar soms so ongelukkig te sien. Maar haar innerlike son skyn altyd, en ek dink nie die hoeveelheid *ekstra padding* kan dit enigsins affekteer nie

      Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s