Bettie Buurvrou

Voor die huwelik het ons die getroude lewe beplan; ons gaan dinge in die ‘regte’ volgorde doen. Ons gaan trou, ‘n huis koop, 2.5 kinders hê en aan al die ander verwagtinge voldoen. Ná my man my verras het met ‘n ring, het die huis soektog begin. Die Plan sê ons kort ‘n groterige huis met plek vir 2.5 kinders en baie honde – iewers met ‘n groot tuin en in ‘n veilige area en dít sonder om die bank te breek. Toe die eerste paar eiendomsagente met wantrouige, groot oë na ons droomhuis en begroting geluister het, besef ons die Plan gaan moet verander in ‘n meenthuis in. Met ‘n klein tuin, en twee slaapkamers. Ons begin toe met ‘n glimlag soek, wat al moes die Plan opgegradeer word, kan ons steeds ‘n kleiner plek bekostig, en uitverhuur wanneer ‘n groter plek nodig raak.

Ons het seker na 20 plekke gekyk, en was geskok oor hoe klein party plekke is! Beide ek en manlief kom uit massiewe huise met baie plek, kamers en leefareas uit, en van die drie slaapkamer plekke kon in ons ouerhuise se motorhuise pas. Uiteindelik vind ons ‘n meenthuis, met ‘n klein tuin en ‘n groot uitsig. Dis nie perfek nie, maar ons Plan kan mos maar aangepas word. Die tuin is onlangs volledig geplavei, die kamers is skokpers en skokpienk geverf, en daar is net een garage. Ons deel ook een muur met die bure, en die meenthuis is so bietjie meer as die begroting, maar verder is dit ideaal.

c4f6eae7c9a1eebf165d5a255c256184085a846e.jpg_facebook

-Source

Die eienaars was die vetste gesin van vyf in so klein plekkie ingedruk, en het ons woes herinner aan die Dursleys van Harry Potter. My pa – hy hou baie van navorsing doen en nuus lees – het ons gewaarsku dat party verkopers vol skelm streke is. Dinge soos insluit dat hulle die stoof kan uithaal (onwettig in Gauteng,) dat hulle daar kan bly totdat hulle dit goed ag om te trek, dat hulle allerhande vaste instellings kan verwyder… Ons het gedink my pa oordryf dalk (soms doen hy) maar die Dursleys het al die bogenoemde en nog meer probeer. Mens kon sweer hulle wou nie trek nie, en ons het vir maande gesukkel om die koopkontrak veilig te kan teken.

‘n Maand voor die troue was die plek uiteindelik op ons name, en ons kon ons minimale besittings begin aanry (3 bakkie-vragte). Ons het dinge agter gekom, soos om ‘n yskas by trappe op te dra liefs vir die eksperts gelos moet word, en dat ons Plan nie geld vir ‘n bed ingesluit het nie. Ons het die huis die ‘Basis vir Trou-Operasies’ gemaak, en vriende en familie het gereeld daar bymekaar gekom om te help strikkies maak en blommetjies vou vanaf ‘n verskeidenheid geërfde kussings op die vloer.

Tydens hierdie maand het ons geleer gordyne ophang is harde werk, en dat mens baie nuttelose goeters opgaar gedurende studiejare. En sentiment hou ook net vir so lank wanneer mens deur 10 bokse teddie-bere begin werk. Ons het ook kennis gemaak met ons nuwe buurvrou, Bettie. Sy is ‘n weduwee, haar seun studeer om ‘n vlieënier te word, en sy praat onmenslik baie. Ons het al sonsteek gekry omdat sy nie ophou oor die muur gesels nie.

Oor ‘n braai-vuur het vriende en familie ons stories vertel oor nare bure. Mense wat aspris harde musiek speel, met die luidsprekers teenaan die slaapkamer se muur. Mense wat klippe in swembaddens gooi en skelm die honde vet voer. Ons het altyd gedink ‘what comes around, goes around’ en hierdie tipe moedswilligheid moes van twee kante kom. Ons was gaaf met Bettie, en sy was gaaf met ons. So maklik soos dit.

Kort nadat ons terug is van die honeymoon, het die body corporate laat weet dat daar klagtes inkom oor ons – amper twee per week! Kyk, ons is nie loud mense nie, ons hou nie van laat partytjie hou nie, nie van harde musiek nie, en lees meer boek op die stoep as wat ons hardop klets. Pepper, die hond, is te skaam om te blaf, en mens weet skaars sy is daar. Toe besef ons die klagtes is anders as die gewone:

  1. Ons het die plaveisel met gras vervang (soos al die ander eenhede s’n)
  2. My man sit die toiletsitplek te hard neer
  3. Die tuin kry nie genoeg water nie (ek het groen vingers, dit het nie water nodig nie!)
  4. My hoë hakskoene raas as ek die 20 meter na my kar toe loop
  5. Ons spuit nie die gras af wanneer Pepper daarop gepiepie het nie

Die body corporate het gelukkig ook genoem dat die klagtes belaglik is, hulle wil maar net hê ons moet weet daarvan. Skielik besef ons Bettie is die enigste persoon wat oor die muur kan loer om te kla oor klagtes 1,3 en 5, en dat sy, as sy baie mooi luister, dalk my skoene en die toiletsitplek kan hoor. Dit, terwyl sy glimlaggend loer en geselsies maak. Sy is mal, en het te veel tyd op haar hande. Ons ignoreer die klagtes en gaan aan met die lewe.

Ons woon naby ‘n kloof, en sien veldhase en tarentale en kiewiete op die gras voor ons eenheid. In die aande hoor mens uile en ander voëls. Een van dié voëltjies klink ongelukkig soos ‘n kar-alarm en skree enige tyd van die nag, veral wanneer ‘n kar óf hard óf met helder ligte verby hulle ry – amper soos ‘n hoenderhaan en die son. Een oggend nadat die voël ‘n besige nag gehad het, SMS Bettie my; sy het agtergekom die body corporate ignoreer haar, en hoop die persoonlike boodskappe het ‘n groter impak. Gewoonlik antwoord ons haar met iets soos “ja Tannie, ons sal ophou metaal eetgerei gebruik vir aandete, ons verstaan dit maak jou wakker 7uur in die aand” – en gaan ongestoord voort om aandete met messe en vurke te eet. Dit werk elke keer.

Haar nuutste boodskap vra dat ons die alarm

wat 23:00, 01:00, 02:30 en 04:00 afgegaan het in ons huis, asseblief moet afsit. Sy praat van die voëltjie (hy hou my man soms wakker ook), en ek verduidelik toe dat dit net ‘n veld-kreatuur is wat so maak. Sy stry dadelik en sê hoe sy en haar seun (!) hulle ore teen die skei-muur gesit het om sodoende te bevestig dat die klank van ons kamer kom, en dus net ons kan wees.

therapy1

-Source

Ek het net daar besluit genoeg is genoeg – ons het ook mos privaatheid! As sy nie agter die body corporate wegkruip nie, kruip sy agter haar foon weg – en dit terwyl sy steeds oor die muur gesels om te probeer koekeloer waaroor sy volgende gaan kla. Die kleur van my Yesterday-Today-Tomorrow boom is verkeerd, sy verkies wit lelies oor my rooi varkore, die gras is te lank, die gras groei oor die plaveisel… Ek bel haar (sy wil mos konflik vermy) en nooi haar om by ons te kom kuier en die oorsprong van die alarm aan te dui. Sy skrik, maar vra of ons nie dalk nie mikrogolfoond gebruik het nie. Ek sê nee, maar sy is welkom om die klank te kom soek, anders moet sy die waansinnige klagtes laat staan, want as sy dit nie wil kom soek nie, dan weet sy mos dis nie regtig ons nie.

Sy het die foon in my oor neergesit, en nog nooit weer ‘n klagte oor ons ingedien, of ons sonsteek gegee nie. As iemand wegkruip, en mens laat dit toe, gaan hulle nooit in aangesig tot aangesig kom met die werklikheid nie.

Nou weet ons dat mens goor bure kan hê, of jy dit verdien of nie. En ook dat gawe bure nie noodwendig onskuldig is wanneer daar ‘n body corporate met ‘n klagtes e-pos adres beskikbaar is nie. Maar ons sal nou nie alle gawe bure oor dieselfde kam skeer nie.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s